Tuesday 31 January 2012

The delivery




Waar ek grootgeword het, was kinders skaars gesien en glad nie gehoor nie.  Ons het al die karre in die omgewing geken.  As daar ‘n vreemde kar in die stofstraat aangekom het, het almal stoep toe gehardloop om te sien wie dit is.  Groot en klein.  Jy kon die straat van enige kant van die huis af gesien het.  Die Superintendent van die dorpie was die pa van almal.  Baie keer het my broer my die stofstraat afgejaag, en sover ek moes hardloop vir my lewe, het ek geskree.  Dan het my ouma (my oupa was toe al oorlede) vir Tom McAlpine gebel.  “Ag Vader Tom, kom help asb. hier”.  Dan het hy in sy bakkie geklim en ons kom foeter.  Ons was te bang om vir hom weg te hardloop.    

Ek mag ook nooit met die seuns gespeel het nie.  Hulle is altyd die berg in, en partykeer kon ek skelm agterna hardloop.  Meeste van die tyd het ek hulle en elk geval nie gekry nie, maar ek het darem my opwinding gehad.  Daar was bobbejane in die koppetjies, meestal by die maroela bome.  Ons was nie bang nie, te dom.  En nog nooit was ons gepik deur ‘n slang of iets slegs nie.  Maar baklei, daagliks!  My tannie het my broer aangehits: “Vat haar lande toe”  Dis nou die mielielande dan het ek weer sover ek gehardloop het geskree tot ou Tom my kom red het.  Oppad skool toe het dit nie beter gegaan nie.  My broer het my dikwels platgetrek reg langs die teerpad.  Dan rol en stoei ons, en ek skree soos gewoonlik.  Die tyd om skool toe te stap was dieselfde tyd wat die skoolbus verby gekom het wat die plaasjapies opgetel het.  Mnr Willers het ons baie ingeroep en met ons geraas.  Met die gestoeiery het my rok gewoonlik opgetrek en kon almal wat verby kom my panty sien, dis wat die meneer eintlik gepla het.  Ek dink nie ek het al so iets in die straat gesien nie.  Was ons dan on ? op ? gevoed ?  Nee man, seker nie.  Almal in die dorpie was al GROOT toe was ek en hy nog klein.  Almal het al gedrink en gerook en gesteek, maar ons het nie eers daaraan gedink nie, ons was te besig met ander shit.


Soos geld maak, die tip wat ek met die vorige praatjie vir julle gegee het.  Dis toe waar die delivery inkom.  My oom sit die dag op die stoep, en suip rooiwyn uit ‘n groot groot bottel.  Ek kyk die move so.  Ons was maar arm, en goed soos koeldrank was skaars.  Ewe skielik kry ek lus vir die goed.  Kort-kort dan verdwyn hy vir ‘n rukkie.  Ek wonder nou eers waar hy gegaan het, dalk gaan pie.  En elke keer as hy verdwyn, dan vat ek gou ‘n sluk. So wonder hy ook nie wat hang ek so rond nie, en hy is te dronk om te sien die bottle sak effe vinnig.  As hy sien, dan sit ek maar weer op die trappie.  My ouma het nie baie van hom gehou nie, hy moes buite suip as hy wil suip.  Sy roep my toe en sê ek moet die bordjie met mielies vir die oom langsaan vat.  Die huise was nogal ver uitmekaar, want daar was ‘n groot blok land waar jy kon plant.  Op daardie stadium geniet ek die gestoep-sittery so, dat ek nie agterkom die lug raak blouer nie.   

Ek struikel effens.  In my kinderkop is als reg.  Dis Voorwaarts Mars!  Daar is nogal groot klippe in die pad, en my voete lig met moeite oor dit.  Die ouman sit op die stoep.  Waar ek aankom, sien ek hom.  Die lug begin stadig draai om my, blou onder, grond bo. Die boom oorkant se takke raak so lank, ek koes vir my kop, ek wonder steeds niks, ek loop.  Dis blerrie warm.  Die mielies begin gevaarlik rondrol, ek kyk nog na die bordjie, toe val ek.  Die bordjie trek voor my uit en elke mielie kry ‘n ander rigting.  Ek skrik so groot, ek is dadelik op my knieë,  kruip rond in die grond en voel-voel na die mielies.  Nou wat is alles so wasig, ek kry die mielies in die hande, sit dit terug op die bordjie, Voorwaarts Mars!  Alles is vol sand, maar die delivery gaan uit.  Ek val rond en sleep myself alle kante toe, maar dinge wil nie vorder nie.  Die volgende oomblik hoor ek stemme om my, ek kan nie mooi uitmaak wat aangaan nie, nog minder kan hulle.  Nog steeds is ek oraait.  Ek dink niks, my kinderkop staan stil.  Dis eweskielik donker en hier staan ‘n polisieman voor my.  My ouma sê vir hom: Sien jy!  Ek wonder wat soek hy.  Daar is nog ander getuies.  Hulle vra my:  wie het vir jou wyn gegee om te drink.  Was dit jou oom?  O! dink ek, hulle is kwaad oor die wyn.  Dit klink na die regte antwoord.  Ek sê: hy het dit vir my gegee.  Die polisieman is kwaad.  Hulle praat so baie, maar ek hoor nie wat hulle sê nie.  Ek hoor my oom stry erg, maar ek is baie baie dors.  Ek gaan drink water in die badkamer by die tap.  Sjoe, maar dit help nie.  Toe ek weer sien, is almal weg.  Ek gaan slaap.  Nooit weer praat iemand of vra iemand daaroor nie.