Friday, 16 December 2011

Dood, waar is jou angel?







Tyd kan nie terug

dof
raak jou lig

ek gryp
  krampagtig
my kloue

waar’s jy !

waar’s jy !

maar net
vir ‘n hele ewigheid

Vervaag jy

As ek

my spore sou
bekyk
oppad uit
hierdie lewe

hul terugvolg
van eerste
tot einde

sou ek dan
O God
U loof
vir U 
Oneindigheid

te kon deel in
 smart
 lief en leed

O God
te veel om te noem
ek sê net dankie
vir die voorreg daarvan

Wie ken als beter as U


Ek, en ek

is al wat daar oor is
ek wat wil vrek
van my eie
self se denke

ek redeneer met my
ek praat met my
baklei met my
verwyt my
ek is so gatvol
vir myself

om tog net te kan praat
met die duiwel
huigelaar
laat my voel
ek moet
net die einde versnel

wie anders sal na my luister
gekluister in my
self-stoel

ek is oor
 ek’s verby

stink asem sit aan my

Oor en verby


Alleen

die pyn in my hart
brand
 tot onder in my niere
amper vergete verlies
maak my steeds klaar
as ek stuk-stuk
my gedagtes wil orden
tevergeefs

sakke vol
van die goeters  -
het uitgeval
 tot binne-in my skoot
gryp ek dit, maak ‘n bondel
prop terug
binne-in my bors

Maar liefde

dié het ek wel belewe
enkeld, oor en verby

my siel versplinter
glimmende kristalle
net maar brokkies

 ‘n verdwaalde siel
se laaste sug


Maar nou maak

dit regtig nie meer saak

oor en verby

ek het gely
en die pad was lank
en die pad was eensaam
en die pad was besaai
met dorings
en rotse

en hoe bevoorreg was ek
om ‘n enkele kosmos
te ontdek
langs die weg

tot ek toe kom by ‘n doodloop
sien ‘n afgrond  
maar die pad is te nou
om terug te draai
ek hel neer -
my liggaam het geen meer krag
om staande te bly

en terwyl ek beangs roep
O God, wees met my!
vorm Engele ‘n kring om my
en my kop verloor sy denke
maar toe ek my oë oopkry
lê ek voor die voete van God!



Sal ek maar net ophou lewe

sal dit genoeg wees

 kom tot die
slotsom
niks oor vir my

Ineengekrimp
my
gees
my
vlees

geen begeerte
om nog
te wees
  
Dit kan net sowel





VIR JOU


Ek kies 'n reuk vir jou
dat jy my sal onthou


langer as 'n dekade
slaan ek dit gade
soms waag ek
ruik vlugtig daaraan
bang dit verslaan


eenmaal toe
nooit weer daarna


bottel stewig toegemaak
dalk is jy daar binne


dood waar is jou angel







Thursday, 15 December 2011

Lieg Moeders ook?


MOEDERS


 is eienaardige skepsels.  Hulle verstaan hulself nie aldag.  ‘n Mens kan verstaan dat hulle soms deurmekaar raak want kinders put hulle uit op allerhande maniere.  Kinders is die oorsaak dat hulle soms wit leuntjies moet vertel (veral vir pa’s en onderwysers en defnitief die familie). 

Dis ook nodig om ‘cool’ te probeer wees – eintlik ‘n vereiste.  Kinders vergelyk hul vriende se ouers met hul eie ouers – daarom die ‘cool’ maar nie te veel, anders moet hulle weer skaamkry vir jou.  Wanneer daar nie genoeg kos is nie, staan moeders hul deel af aan kinders sonder dat iemand dit kan sien. 

Wanneer ‘n pc-game baie geld kos en jy maar daarvoor betaal, vertel jy vir almal dit was op ‘special’ anders sou jy dit mos nooit gekoop het nie. 

Wanneer die pc oppak en baie mense sê dis die kinders se  skuld, bevestig jy dit halfhartig, en begin dadelik om wasgoed te was dat die mense kan sien die onderwerp word nou nie verder bespreek nie, jy het nog baie ander take wat moet aandag kry.  Maar terwyl jy besig is dink jy klomp verskonings uit wat die oorsaak kon wees  – niks kan in elk geval vir altyd hou nie -  daar gebeur ook snaakse goed want om een of ander rede lyk die kinders se selfone nie altyd soos dit die vorige week gelyk het nie.          

Wanneer kinders se ‘dinge’ hand uitruk en daar moet verantwoording gedoen word, verander moeders in advokate wat kruisverhoor toepas – soos die verhoor verloop moet jy natuurlik kort-kort van taktiek verander en wanneer jy dink die tyd is reg (sesde sintuig skop in) dan raak jy vreeslik aangedaan en pik ‘n traantjie weg (darem so dat almal dit kan sien).  Ek meen, ons kyk almal tv en dis nie net die kinders wat blootgestel word nie. 

Verder weet pa’s net die helfte van wat in kinders se lewens aangaan.  Moeders neem alles in, sif dit, verwerk dit, hanteer dit, en besluit dan eers wie moet wat weet.  As dit ‘n vreeslike ding is, sal moeders eers baie stil raak sodat pa’s moet weet iets is fout.  As pa’s dit agterkom (vat partymaal bietjie lank) is moeders eers emosioneel en in trane en weier om haar hart uit te praat. 

Wanneer pa dink arme moeder gaan ineenstort, maak sy eweskielik haar hart en mond oop.  Nou is pa so geskok, dat hy onvas terugval op sy leunstoel en eers bietjie tv kyk.  Partykeer dieselfde aand, soms eers drie dae daarna is hy eers weer in staat om te dink en waag dit nader aan ma.   Nou wil hy sy praat praat.  Hy het die ding goed oordink.  Hy sien moeder is nog baie stil, maar sy gooi darem weer sy asbak uit wat nou al drie dae se stompies in het.  Dis ‘n goeie teken.  Hy is lus en maak die kind vrek, verban hom uit die huis of laat hom aanneem. 

Ongelukkig is die blikskottel reeds te groot vir sy skoene, en die tienerpuisies kom uit, en die voete stink van dae lank dieselfde kouse, so aanneem is uit.  Hy moet dalk ontvoering oorweeg.  Nou ja, dink hy, dis nou eers die tyd om ‘pose’ te hou. Moeder is skerp, hy sal maar op ‘n vreeslike volwasse manier met moeder gaan praat – ‘n manier wat sê dat hy die kind  verstaan, maar dis nou tyd om by te kom. 
Dis net ietwat ongemaklik, hy kan nie te kras wil wees nie, want hyself het nog ‘n paar kindermaniere
waarvan hy net nie ontslae kan raak nie.
Moeder’s weet al’s van almal (sy moet mos agter almal skoonmaak, maar dis dan ook die ideale geleentheid om in almal se goed te krap).   Moeders is baie slim.  Wanneer hulle klaar gekrap het, raak hulle dikbek oor hulle almal se vuilwerk moet doen (nie terwyl nie).
Nou trek pa los om sy beskeie opinie te gee, onwetend van die stophorlosie in moeder se kop. 

Hy maak dit ook net-net, en voor hy asem kan skep vir die derde sin, sug moeder, kyk hom aan met moedelose oë en sê:    “Ja, dit is seker so.  Ek weet nie meer nie … “  Dan vlieg sy op, voordat hy te veel selfvertroue kry en begin met haar eindelose take sodat hy kan sien die saak word nie verder bespreek nie, die huis moet skoon.  Ek meen, moeder het mos reeds die sakie met al haar ‘skills’ en maniere hanteer.  Dis dan wanneer pa’s hulself weer voor die tv gaan neerplak, moeder lyk ok. 

Al mense wat somtyds weet wat kinders aanvang, is moeders se eie ma’s en pa’s.  Pa’s se ma’s en pa’s mag nie hierdie dinge weet nie, want hulle skinder te veel.   Jy sien, moeders moet hierdie dinge vir hul ma’s en pa’s vertel, sodat iemand darem kan sien deur watter lyding moeders gaan, en hulle kan jammer kry.  Terwyl hulle so oor en weer praat en kla, rook hulle vreeslik, sit baie regop en wens so by hulself dat daar ‘n bier in die yskas was. Wanneer almal klaar gepraat het, staan die moeder en haar ma op en gaan drink ‘n grandpa in die kombuis waar niemand hulle kan sien nie.  Hulle koppe is dan baie dof van al die gepratery, en die grandpa help daarvoor. 

Moeders is baie spesiaal.  Kinders het nie ‘n idee van wat moeders alles moet doen nie, en is eers bly oor al die goed wanneer hulle self kinders kry en ook so baie moet jok.  


Mara, tong in die kies

En dan is daar die ander ou kindertjies ...


Daar is nie woorde

so hoog die berg
van onreg wat
 verskuil lê in haar

 die vlees bied nie toegang
vir dit wat wil wees
bonkig, swart-nag, die wese
wat oor haar tree
inskeur
opkou
‘n spikkeltjie stof

belustig, vraatsugtig

arme
spikkeltjie stof

as die gloeiende wellus
oor haar ontplof

Nee !



Haatlike vraat

as ek kon doen
wat jy aan
 Spikkeltjie doen …


O ! jy sal pleit vir Lucifer
want geen genade
sal jou hoor !
 Lucifer sal wees
soos die sanggod 
gekyk teen my

‘n verpeste embrio
dis wat jy is
sal jou oopskeur
stadig in stukke
voer vir demone
wat seks met jou hê
elke deel van jou liggaam
elke deel van jou siel
sal demone op toeval
met wellus
verstik in jou bloed

sekondes strek tot voltyd
vir hulle perverse genot
tot daar net
jou spikkeltjie
oorbly

wat dryf in jou eie vrot !

Kon erger gewees het




Dit kon erger gewees het

slu gestalte
dink jy is slim ….

word toe uitgevang
Ja ! mensdom
ek moet nou bieg :
Spikkeltjie is vir ewig
in ‘n wieg
ek is so jammer
wou net graag wees
‘n man in beheer
van ‘n spikkeltjie stof
ek sê : mensdom leer uit my fout
Spikkeltjie, vergeef my !
ja,  ek laat jou koud
maar jy’s my enigste behoud 
laat die wêreld sien jy het genade !

Spikkeltjie, laat Mara jou sê
gestalte soek steeds jou stof
Mara ken goed wat jou sal verlam
doen my ‘n eer
hy sal nooit leer
sy woorde vir eie gewin

ek smeek vir hom
dat Mara hom leer
hoe te besin !


Lewend net heelwat geskend !



 Spikkeltjie

sê :

ek’s nog steeds bevrees
swart-nag
jou gewig te swaar
my asem weg
sou jy dit nou doen
 kan steeds nie beveg
die mag van jou spel

was duister
toe kom skemer
toe kom lig

toe eers kon ek sien
na miljoene jare

eers toe na die duister

met die skemer
met die lig
wonder ek

 voëlverskrikker
 lammervanger

kom tog uit
hier’s die ding !
moet verskrik word
 gevang word !


Ek bly bevrees !

Friday, 9 December 2011

Mara se Publikasies




BESOEKER

‘n skreiende skande
wanneer die sonde se bande
my vasgryp in gebed

ek eers saamspeel
dan besef
ek speel met ‘n ander lewe
Oneindig in sig

 tyd sal nie verveel
   aanhoudende gelek
oor elke plek
wat nooit heel

vrot stink gemors
val uit my neus
gesig en lyf pappery gekneus
of is dit net my gewete

slymerige siel
word nogeens verniel
geskik vir asiel
slobberig die skotskar
wat die stank oplaai
as offer te dien
vir die getroue besoeker

Wyk satan

"Watched by an Angel" Anthology of Verse
Oorspronklik uit "Wat maak dit dan tog saak" - Mara



VERTERENDE GEMOED

My hart skop in opstand teen my ribbekas
binne my is daar iets wat krap en grou om
uit te kom
dis vasgedraai in ‘n geknoopte rol
en probeer met emosies wat rondspring
los te woel

Verbeel ek my, of is dit maar net ek
en nie ‘n gruwel-ding wat my wil laat ontplof

Nou so kalm en vrolik, hoe mooi -  maar nee, kyk !
 die ding wil opvreet !
sewe koppe op een lyf
dit krul en spoeg en gaan kruip in ‘n gat

My oë raak groot en ek wonder
wat is dit wat die ding so ontstook ?


Mara 


"Venturing Vistas" Anthology of Verse
Oorspronklik uit "Wat maak dit dan tog saak" - Mara


EK KRY DIT DAAR

Myself  voel  uitgeput
Sou ek net kon wegbreek en maak nes ek wil
sonder skadu’s wat saamsluip om my terug te hou
-          skadu’s wat weet van die uitwis in my

Skadu’s wat my binne-sluip, en saggies begin wieg,
my denke verlam, my toevou in moegheid,

my laat oorgee
 die sinnelose stryd binne my

wanneer ek bestorm, myself in die hoek
grom soos ‘n wolk voor die uitbarsting woed
Skadu’s wat waghou, sus my gemoed
Raap my op, plaas my sagkens voor die voete
van God
  
Mara

"River of Life" Anthology of Verse
Oorspronklik uit "Wat maak dit dan tog saak" - Mara


Ek weet, dat jy weet

dat dit geskrywe staan
mense moet omgee
vir mekaar

ek wil hê dat jy moet weet
dat ons ontmoeting
ek meet aan stawe goud,

ek wil hê dat jy moet weet
dat ek vir jare lank jou dophou
ek meet dit aan silwer-sy,

ek wil hê dat jy moet weet
dat ek jou liefde vir mensdom
intens gade slaan
ek meet dit aan die liefdesblom,

ek wil hê dat jy moet weet
dat tussen-deur jou eie pyn;
gestorte trane
vir dié om jou,
dat God dit meet
aan Sy Eie Pyn
Golgota

en dat Hy wil hê dat jy moet weet
jou liefde vir mensdom,
jou pêrel-trane,
jou beloning,
sal Hy meet aan die
edel-kroon
om Sy Heil’ge Hoof

Teresa

"The Greatest Gift" Anthology of Verse
Oorspronklik uit "Hy wil my nie los nie" - Mara

                            My Jesus

U diepe vernedering
om voor die wêreld
se gode te knak

my zolle
my dop
die vulgêre gedagtes
in my kop
die wrok en nyd
wêreldwyd

wonderletsels aan U lyf
bewys my gode is nog steeds
vasgehamer aan die kruis

                                             My Redder


"Journey of Faith" Anthology of Verse
Oorspronklik uit "Hy wil my nie los nie" - Mara


 Stoflap


Dit kyk vir my
Vuil deurmekaar hare
Ek gril vir die snot
wat oor jou lip loop
Klaasvakie se sand in jou oë
Jy stink
Bene vol stof en vol strepe
Jy is stom, verkyk jou aan my


Afgeslyte klere
weet dit dan nie dis koud?
Moet nie aan my vat nie
ek hou nie van vuil hande en snot
Dit kom ietwat nader
lyk nie of ek iets sal doen
Wil graag aan my vat
ek trap terug en kyk na die lug


"Murmuring Memoirs" 
Oorspronklik uit "Wat maak dit dan tog saak" - Mara



Friday, 2 December 2011

Laat die kindertjies ...

Trippeltjie, Trippeltjie

donkie kind
dom ogies
skud koppie

jou hare
lyk soos donsies

O, land! O, tog!
Pappa donkie
het mielie tande

Kom nou!
Gou-gou !
ons gaan asgat toe
skop blikke
krap klippe
soek ietsie
vir ons lippe

Loop weer vlakte toe



Vir Johan




Truitjie, Truitjie

aan die brand
aan watter kant
sal die sweeties plof
as die engeltjies
dit uitstrooi oor die bos

binne in die brand
of weg ver weg
in drome se land
seuntjie land
Verlore Land




Kleine Muisie

in jou huisie
in jou boxie
vol papiertjies
wat jy self gesny het
met jou tandjies

ou-gat bolletjie
sies jou drolletjie
is binne die waterbak

kleine muisie
in jou huisie
kyk nou net
wie pas jou so mooi op
dis kattie Bokka
sy sit heeldag
langs jou hok
en daar kom prinses
en sy vreet jou toe op!


My liefste Daniella

tenger
wilgerlat lyfie
oulikste
ou dingetjie

ek is so lief vir jou
verleë
skewe laggie

“A Babalela”
rondoog-spot
wat net jy kan maak

diep-staar donker oë

wil jy iets sê?

Dan is daar niks


Ek het altyd die deel van “al het jy die en daai en jy het nie die liefde nie, dan het jy niks …” met ‘n gevoellose hart gelees.  Ek kon dit in ‘n mate verstaan, maar daar het iets daarin gekort wat die woorde lewe gegee het.  En glo dit nou of nie, dat die werklike betekenis vanaand plek maak vir emosie.  Dit kort ‘n hond wat wydsbeen staan van oudheid en so pas ‘n tweede aanval van beroerte net-net oorleef wat kyk hoe die ou vrou ‘n tassie pak vir die hospitaal om my te laat tjank terwyl ek deur die trane wonder hoekom ek so hartseer is.  Wat my ‘n droefheid gee dat my ouers se lewe verbygegaan het met die wete alles was verniet, en wat nie verniet was nie, is gemis.  Gemis in die sin van al die pyn en verwyte en hartseer het geen sin aan hulle huwelik gegee nie.  Daardeur het hulle selfs hul lewe verloor.  Al is hulle nog nie regtig dood nie.  Kan die ou vrou nog een jaar in die lewe kry en dalk is haar siekbed al wat die ou hond nou nodig het om finaal te knak.  Dis alles net tragies.  Dan verstaan ek wat die storie is met as jy nie die liefde het nie.  Dan is daar niks.    
  
JY

Die oggend stilte skuif jou beeld voor my in en my hart dra jou verlies met gemengde gevoelens.  Kan ek vir jou sê dat ek jou lief het?  dat ek nóú seks met jou wil hê? dat ek elke dag saam met jou wil wees? dat ons stille bymekaar-wees goed is? dat dat dat? dat ek niks kan sien wat lyk asof daar ooit ‘n dat sal wees nie?  Hoe kan ek die goed vir jou sê.  Want my dat en jou dat is nie dieselfde nie. 


***

Ons is almal tevergeefs
niks in ons doen en late
soeke en godsdiens.

Alles is tevergeefs.

***


Geskryf vir mev Lenie Dreyer wat 'n jaar hierna oorlede is : en daar was niemand by haar.    
Heidi op die foto is daarna deur die veearts uit die lewe gehelp.

Ek onthou nog ....