Tuesday, 21 February 2012
Geloof van 'n kind
‘n Vader sê vir sy seuntjie: “Boetie, alles wat jy vir vader Krismis vra, kry jy.” Boetie dink dis ‘n goeie plan. Hy skryf ‘n brief en adresseer dit aan vader Krismis. Hy pos dit, die posmeester maak dit oop en lees: “Liewe Vader Krismis, stuur asseblief vir my vyf rand. Baie dankie.”
Die posmeester glimlag, steek die brief in sy sak en neem dit na sy vriende. Hy lees vir hulle die brief voor en hulle lag daaroor. Net vir die grap gee elkeen van hulle ‘n rand. Toe die posmeester weer die knapie sien, gee hy dit vir hom en sê: “Boetie, vader Krismis stuur dit.” Die outjie sê vir hom: Dankie, omie.”
Twee dae later kry hy weer ‘n brief – dieselfde handskrif, dieselfde adres. “Liewe Vader Krismis, baie dankie vir die vyf rand wat u aan my gestuur het. Maar onthou ‘n bietjie as u weer vir my geld stuur, om dit nie weer saam met die posmeester te stuur nie, want hy het twee rand gesteel.”
Saturday, 11 February 2012
And away they go!
Ek sê vandag vir julle, as ek omkap, los my uit. Geen kerkdiens en shit nie. As mens nie aan ander liefde kan betoon terwyl hulle lewe nie, dan bestaan dit mos nie. So die gerondstaan met trane in die oë, asseblief.
So het dit nou weer met my prestasie in my eie waansinnige oë gegaan vandag. Ek doen die 32km: kom by die huis aan soos die verlore seun, ek dag ek gaan een of ander toekenning of geslagte vark kry, geen navraag, geen gelukwense. Pluk my moer, gryp ek die flat bread, moer dit teen die vloer, tel dit op, kap dit moer toe op die kas, pluk die hele brood in sy moer terwyl ek skree soos ‘n donnerse mal ding. Ek dink jy moet bietjie gaan rus, word daar vir my gesê.
So het dit nou weer met my prestasie in my eie waansinnige oë gegaan vandag. Ek doen die 32km: kom by die huis aan soos die verlore seun, ek dag ek gaan een of ander toekenning of geslagte vark kry, geen navraag, geen gelukwense. Pluk my moer, gryp ek die flat bread, moer dit teen die vloer, tel dit op, kap dit moer toe op die kas, pluk die hele brood in sy moer terwyl ek skree soos ‘n donnerse mal ding. Ek dink jy moet bietjie gaan rus, word daar vir my gesê.
Ek dink jy moet eerder fokof, soos in vir altyd, is wat ek te sê het.
So het ek toe die 32 gedoen. My gevolgtrekking: dit was moontlik om dit te doen. Dit was moeilik, maar dit was bereikbaar, so asof dit nooit regtig gebeur het nie. Ten minste het my klub-girls gedink dis great, en natuurlik waardeer ek dit. Julle is die beste. Vergewe maar as ek party keer lelike goed op my blog skryf oor mense, maar kyk maar waar kom party van ons vandaan, en nog belangriker, waar gaan ons. Dis maar ‘n alleen pad meeste van die tyd. Sien, dis al wat nodig was om te gebeur om my te laat besluit dat ek nooit weer die begrafnis ding gaan doen nie. Ek gaan seker erg daaroor verwyt word. Kan julle solank aan die idee gewoond raak.
Tuesday, 31 January 2012
The delivery
Waar ek grootgeword het, was kinders skaars gesien en glad nie gehoor nie. Ons het al die karre in die omgewing geken. As daar ‘n vreemde kar in die stofstraat aangekom het, het almal stoep toe gehardloop om te sien wie dit is. Groot en klein. Jy kon die straat van enige kant van die huis af gesien het. Die Superintendent van die dorpie was die pa van almal. Baie keer het my broer my die stofstraat afgejaag, en sover ek moes hardloop vir my lewe, het ek geskree. Dan het my ouma (my oupa was toe al oorlede) vir Tom McAlpine gebel. “Ag Vader Tom, kom help asb. hier”. Dan het hy in sy bakkie geklim en ons kom foeter. Ons was te bang om vir hom weg te hardloop.
Ek mag ook nooit met die seuns gespeel het nie. Hulle is altyd die berg in, en partykeer kon ek skelm agterna hardloop. Meeste van die tyd het ek hulle en elk geval nie gekry nie, maar ek het darem my opwinding gehad. Daar was bobbejane in die koppetjies, meestal by die maroela bome. Ons was nie bang nie, te dom. En nog nooit was ons gepik deur ‘n slang of iets slegs nie. Maar baklei, daagliks! My tannie het my broer aangehits: “Vat haar lande toe” Dis nou die mielielande dan het ek weer sover ek gehardloop het geskree tot ou Tom my kom red het. Oppad skool toe het dit nie beter gegaan nie. My broer het my dikwels platgetrek reg langs die teerpad. Dan rol en stoei ons, en ek skree soos gewoonlik. Die tyd om skool toe te stap was dieselfde tyd wat die skoolbus verby gekom het wat die plaasjapies opgetel het. Mnr Willers het ons baie ingeroep en met ons geraas. Met die gestoeiery het my rok gewoonlik opgetrek en kon almal wat verby kom my panty sien, dis wat die meneer eintlik gepla het. Ek dink nie ek het al so iets in die straat gesien nie. Was ons dan on ? op ? gevoed ? Nee man, seker nie. Almal in die dorpie was al GROOT toe was ek en hy nog klein. Almal het al gedrink en gerook en gesteek, maar ons het nie eers daaraan gedink nie, ons was te besig met ander shit.
Soos geld maak, die tip wat ek met die vorige praatjie vir julle gegee het. Dis toe waar die delivery inkom. My oom sit die dag op die stoep, en suip rooiwyn uit ‘n groot groot bottel. Ek kyk die move so. Ons was maar arm, en goed soos koeldrank was skaars. Ewe skielik kry ek lus vir die goed. Kort-kort dan verdwyn hy vir ‘n rukkie. Ek wonder nou eers waar hy gegaan het, dalk gaan pie. En elke keer as hy verdwyn, dan vat ek gou ‘n sluk. So wonder hy ook nie wat hang ek so rond nie, en hy is te dronk om te sien die bottle sak effe vinnig. As hy sien, dan sit ek maar weer op die trappie. My ouma het nie baie van hom gehou nie, hy moes buite suip as hy wil suip. Sy roep my toe en sê ek moet die bordjie met mielies vir die oom langsaan vat. Die huise was nogal ver uitmekaar, want daar was ‘n groot blok land waar jy kon plant. Op daardie stadium geniet ek die gestoep-sittery so, dat ek nie agterkom die lug raak blouer nie.
Ek struikel effens. In my kinderkop is als reg. Dis Voorwaarts Mars! Daar is nogal groot klippe in die pad, en my voete lig met moeite oor dit. Die ouman sit op die stoep. Waar ek aankom, sien ek hom. Die lug begin stadig draai om my, blou onder, grond bo. Die boom oorkant se takke raak so lank, ek koes vir my kop, ek wonder steeds niks, ek loop. Dis blerrie warm. Die mielies begin gevaarlik rondrol, ek kyk nog na die bordjie, toe val ek. Die bordjie trek voor my uit en elke mielie kry ‘n ander rigting. Ek skrik so groot, ek is dadelik op my knieë, kruip rond in die grond en voel-voel na die mielies. Nou wat is alles so wasig, ek kry die mielies in die hande, sit dit terug op die bordjie, Voorwaarts Mars! Alles is vol sand, maar die delivery gaan uit. Ek val rond en sleep myself alle kante toe, maar dinge wil nie vorder nie. Die volgende oomblik hoor ek stemme om my, ek kan nie mooi uitmaak wat aangaan nie, nog minder kan hulle. Nog steeds is ek oraait. Ek dink niks, my kinderkop staan stil. Dis eweskielik donker en hier staan ‘n polisieman voor my. My ouma sê vir hom: Sien jy! Ek wonder wat soek hy. Daar is nog ander getuies. Hulle vra my: wie het vir jou wyn gegee om te drink. Was dit jou oom? O! dink ek, hulle is kwaad oor die wyn. Dit klink na die regte antwoord. Ek sê: hy het dit vir my gegee. Die polisieman is kwaad. Hulle praat so baie, maar ek hoor nie wat hulle sê nie. Ek hoor my oom stry erg, maar ek is baie baie dors. Ek gaan drink water in die badkamer by die tap. Sjoe, maar dit help nie. Toe ek weer sien, is almal weg. Ek gaan slaap. Nooit weer praat iemand of vra iemand daaroor nie.
Sunday, 29 January 2012
Die oog na bowe Psalm 123
Kyk na jou hande soos wat iemand anders daarna sal kyk. ‘n Baba wat so afhanklik is van jou aanraking, baie belangriker as jou gesig op daardie stadium. Ek glo nie hulle kan op so jong ouderdom onderskei tussen lelik en mooi nie. Ek het natuurlik nie ‘n probleem nie, my hande en my gesig is baie mooi. Julle mag dalk die goedjies verwar het, nie almal is so gelukkig soos ek nie. Om die hulpelose dingetjie liefdevol vas te hou, versorg en te streel. My sussie het altyd my seun Marco se gesiggie van bo na onder oor die ogies gestreel, en hy het stil gelê en haar streling gevoel. My ou bul Gunther kyk weer elke oggend eers na my hande om vas te stel of daar iets is vir sy pens, voor ons mekaar amptelik groet.
... Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is.
... wees ons genadig Here, U het die wêreld in U hande.
Ons grootouers het hul hande deurgewerk om te oorleef. Hulle was spaarsamig, en dis die mense wat jy nou in Aftreeoorde kry. Maar niemand praat oor die swaar maer jare nie. Vir ons lyk hulle soos welaf mense. Ryk ou donners. Jy weet mos jou oë kan misleidend wees. Dis soos die baba wat dink dat almal mooi is.
My oupa was na sy aftrede genoodsaak om die begraafplaas te skoffel vir ekstra geld. Wanneer dit vakansie was, is ek gestuur om die blikbak wat so mooi toegedraai was in ‘n vadoek vir hom te vat, met sy pap en sous. Of pap en swart koffie. As jong kind van ongeveer 10 jaar was ek nie juis gepla om ‘n geselsie aan te knoop nie. Ek dink ek sou graag vandag op een van die grafte by hom wou sit en hoor wat dink hy van al hierdie dinge. Ek sou hom ook vra hoe is dit dan dat die mooiste meisie op die dorpie in die gereedskapkamer van die begraafplaas gekry is met ‘n tou om haar nek. Ek sou vir hom dankie sê dat daar ‘n plekkie in sy huis was vir my. Ai ...
Ek het ook graag buite op die kolebak gestaan en halleluja liedjies sing as hy wou rus. Dan verskree hy my, en my ouma troos: ag ou maratjie, een van die dae is hy nie meer hier nie, my kind. Bly tog maar stil. Dit was baie erg vir my. Die kolebak ... o ja, 'n ander ouman het eendag toe ek weer so lekker sing kom kuier. Vriende van ver. Toe wil hy vir my geld gee as ek hom laat vat aan my. Ek het my ouma gaan vertel. En, by die ouetehuis was 'n ouman in 'n rystoel. Hy kon nie lekker praat nie. Hy het my altyd sy tottie gewys. Hy het goed betaal. Hy het paar twee sente gegee. Dan kyk ek, en dan gaan koop ek toffies.
Ek het ook graag buite op die kolebak gestaan en halleluja liedjies sing as hy wou rus. Dan verskree hy my, en my ouma troos: ag ou maratjie, een van die dae is hy nie meer hier nie, my kind. Bly tog maar stil. Dit was baie erg vir my. Die kolebak ... o ja, 'n ander ouman het eendag toe ek weer so lekker sing kom kuier. Vriende van ver. Toe wil hy vir my geld gee as ek hom laat vat aan my. Ek het my ouma gaan vertel. En, by die ouetehuis was 'n ouman in 'n rystoel. Hy kon nie lekker praat nie. Hy het my altyd sy tottie gewys. Hy het goed betaal. Hy het paar twee sente gegee. Dan kyk ek, en dan gaan koop ek toffies.
O nee, my gedagtes het nou weer te ver teruggegaan. Noudat ek praat van ‘n delivery, ... dis nie die eerste delivery wat ek moes maak nie. Die oumense het mos altyd kos oor en weer gestuur. Dis net dat hierdie spesifieke een nie heeltemal suksesvol was nie. Ek weet julle gaan hiervan hou. Next time. Onthou dan net, mens oordeel nie. Vra jy nou wat is die les vir vandag? Hande is goeie goed, dit kan jou in die moeilikheid ook laat beland.
Thursday, 26 January 2012
Sunday, 22 January 2012
Subscribe to:
Posts (Atom)