Sunday 10 June 2012


Wat maak my swaar dra, omtrent alles waarop ek my oë lê is potensiaal bedroef.
Die huis waarby ek verby ry met die hond vasgemaak aan ‘n ketting.  Is daar darem ‘n warm slaapplek?  Moet hy heeldag aan die ketting bly?  Kry hy bietjie liefde?  Kry hy net  ‘n skop.  Ek sien hom ineenkrimp, ek sien sy weerloosheid.
Die katjie waarby ek verby ry, ek stop, maar uit ondervinding weet ek, ek sal die dingetjie nie gevang kry.  Hy sit my intens en dophou.  Natuurlik is hy honger.
Die liedjie wat in my kop draai en my gedagtes in ‘n rigting dwing wat my oë laat brand.
Mense wat my lewe geskend het, met wie ek nooit vrede sal kry nie.
Dae wat ek gedink het ek was gelukkig, as ek nou terugdink, vul dit my met walging, en ek walg aan die mense wat saam my was.
Ek walg aan al die mense.  Net so walg ek aan myself.  My klipkoue hart, my gedagtes, my optrede, my gesig, my lyf, alles van my.  Ek is deurdrenk van die sonde.  Ek is sonde.
In die oggend en laatmiddag loop mense met dun baadjies en broeke in die ysige koue.  Dis al wat hulle het.  Ek wonder of hul liggame na jare gewoond is aan min beskerming.
Die ouer mense wat hul lewens gewy het aan wat vir hulle belangrik was.  Wat is oor van hulle?  Niks.  Kinds. 
My ouers, stief of regtig, maak nie saak nie, daar bly iets tussen ons staan wat aanhoudende verwyte veroorsaak.  Dis tasbaar.  Hoeveel keer was ek al soontoe om my gewete te laat rus, maar wat ook al ek gedink het om te bereik, gebeur nooit. Die onverklaarbare bly staan soos ‘n soliede muur.
Met moeite probeer ek elke dag die beste werk lewer wat ek kan, dit bring net meer moeite en stres.  Soveel oneindige take wat heeldag deur my kop maal.  Met moeite probeer ek om alles te doen sodat my lewe beter kan wees.
Die miertjie en die by, met moeite beur hulle voort.  Dit maak my hartseer.  Ek weier om te glo ‘n dier is net ‘n dier.  Nee, hulle kan dink.  Hulle kry seer, hulle is honger en koud.  En die vetgatte vreet en slaap lekker en die miertjies en bye en maer honde vergaan in hierdie sondige sondige wêreld waarin ek nie ‘n verskil kan maak nie.  My lyf is te klein om al die dinge te kan verander.  Ek sukkel om my gedagtes te vergroot sodat ek al die dinge kan oordink.  Alles raak te groot.
Die Rotweiler by die kerk maak my hartseer.  Wat gaan van hom word as die Pastoor moet doodgaan?  Hoeveel jaar kan die Pastoor nog gaan?  Ek begin solank planne uitdink.  Dit maak my nog meer tranerig.  Dis belangrik dat hy my moet ken.  Ek maak seker hy ken my reuk.  You never know.
Hoe ver moet mense loop om by ‘n werk te kom?  Hoe vroeg in die koue en reën opstaan, en hulle aanvaar dit net, kla nie. 
En die kindertjies wat nie weet nie.  O my glory, dis heeltemal gek.  Is daar kos vanaand?  Is daar abuse vanaand.  Nee, Nee.  Ek is mal mal mal.