Ek het
gedroom ‘n man sit by ‘n tafel, die aand voor my seminaar begin. Hy sê vir my: dit gaan nie oor jóú nie. Die Seun van die mens moet verheerlik word. Ek werk nog die boodskap uit. Bolangs verstaan ek dit, maar ek weet daar is
nog iets daaromtrent wat ek mis.
Ek het
gedink hoe meer kennis mens bymekaar maak, hoe meer verander jy. Wel, tensy daar fout is met my, werk dit nie
so nie. Ek is nog steeds net Mara. Glo dit nou of nie. Niks het verander nie. Onderliggend is dit nog steeds dieselfde
mens. En sover ek die mense om my bekyk,
mense met geleerdheid, sien ek net ‘n swakheid deurskemer by elkeen van hulle,
uit my oë natuurlik. Natuurlik is dit
verkeerd om dit te sien en om so ‘n stelling te maak. Ek wonder of dit my eie swakheid is wat
weerkaats na my toe? En dit laat my
terugtrek dat hulle nie naby my kan kom nie.
Ek doen my klas, ek eet sonder dat ek genoodsaak voel om ‘n gelselsie
aan te knoop, ek besoek die badkamer, ek gaan sit op my plek en gaan aan met
die klas. Sonder een oomblik van
ongemak. Ek bedank wel soos ‘n opgevoede
persoon die mense wat hard gewerk het om die seminaar ‘n sukses te maak.
Is dit ‘n
slegte hart wat binne my is? Of is dit
maar net hoe ons almal is, ons is mense.
Die pad wat ons gestap het, of die tred waarmee die wêreld al hoe vinniger
draai, laat sy merk op ons uiterlike.
Ons kan nie meer fokus en ‘n persoon sien soos Jesus sou sien nie. Is dit die liefde wat ontbreek? Soos iemand altyd gesê het, die oë is die hart
van die siel of so iets.