Sunday, 22 January 2012

Para Para?

Pluk vir my 'n blom


Bedankings vir die jaar wat verby is

ek kan nie anders
 as om my dank uit te spreek
vir die dag:

wat julle my spesiaal laat voel het met blomme en koffie
en die ander dag weer,
 die pizza en die
 drukkie wat sê:
dankie dat ons probleme
 elke keer joune mag word

vir die dag toe julle sommer net
die blom op die sypaadjie
 vir my gepluk het,
vir die slab chocolates vir xmas

ek dink
deur die dagboek van my geheue
 ek voel stil
 met ‘n hart wat swaar hang,
maak ek my oë toe
sou dit dalk waar word
maar ek besef
 dis te veel gevra


Friday, 13 January 2012

Wys my jou beursie

Cartoon Business Woman Fed up with Her Cell Phone


Ek praat maar met julle, want hier is niemand anders om mee te praat nie.  Julle het nou wel baie foute, maar een ding kan ek darem sê, julle vra nie dom vrae nie.  Dankie daarvoor.  Ek sal probeer om meer erkenning te gee.  Al klink dit soms of ek sinspeel op een van julle, dis darem nie altyd die geval nie.  Soms, ja.  Jy sal wel jou eienskappe herken as jy dit lees.  Kan dit wees dat een persoon so kan aangaan, dis nou ek daai.  Dis maar net alles wat in my kop aangaan.  Ek is net braaf genoeg om my hart oop te gooi en die gevolge te dra.  Darem niks ernstig, ek ken nie baie mense nie.  Ek stem saam met julle, met so 'n houding .....  Ja, wie worry in elk geval.  Niemand worry.  Dit laat my dink aan iets wat ek wil sê waarvan niemand nou weer gaan hou nie. 

Wat is dit met hierdie gemaakte-diepe-omgee vir mense wat jy ken?  Niemand is tog regtig só begaan oor iemand anders nie.  Dis defnitief te uitputtend vir my.  Julle gaan aan oor ‘n ding en dis sms’e: laat weet dadelik hoe dit gaan; het jy veilig gereis; hoe voel jy vandag; dis skynheiligheid.  Jy doen dit oor jy voel dis wat van jou verwag word.  Maar wat vir my so snaaks is, is dat julle mekaar wragtig glo! Dis eintlik lasting as iemand so aanhou pla.   Hoekom probeer julle nie vir 'n slag gift vouchers nie.  As jy 'n ou se ware kleure wil sien, vat aan sy beursie.  Maar natuurlik sal julle dames nie saamstem nie, julle hou van aandag.  Enige tipe aandag sal doen.  Al kom dit van die spirits-man.  Om te vergoed vir my kritiek,  

As jy sou wees

op ‘n ashoop
en jy stink en kwyl
en ruik soos blou-trein

sou ek sien
dat jy my begeer
my wil streel
en blou-dronk woorde
fluister teen my keel

sal ek nog steeds,
gewillig,
myself voor jou gooi 
Wie weet


Thursday, 12 January 2012

The sad clown





Hoekom verwonder ek myself aan mamma’s wat so getrou hul maakseltjies aflaai by die skool asof hulle ‘n medalje behoort te kry.  Wat is so edel daaromtrent.  En die gehardloop langs die veld wanneer dit atletiek-tyd is.  En as daar ‘n verjaardag te vier is, dan word die maatjies genooi en daar word koek gebak en die mamma neem net foto’s.  En die maatjies word tot geag as belangrik want daar word gelag en gesels met die arme goed.  Dit maak my siek.  Ek kyk met ‘n koue hart na die prentjie. 

Ek wonder of in meeste gevalle die foto’s ook maar net ‘n manier is om die vreeslike gelukkige gesin op geskiedenis vas te lê, want die werklike lewe by die huis is ietwat anders.  En die ou kindertjies is uitgelate en smile breed vir die kamera, want die oomblik behoort aan hulle.  Net die oomblik.  En die uitstalling van die foto’s hang die hele huis vol om die wêreld te bedrieg.

Ok,  daar kan dalk ietsie van die waarheid wees as jy mooi soek.  As ek alles so beskou dan voel dit asof al die mamma’s se gesigte ‘n valsheid aan het.  En hoe harder ek probeer om die edelheid raak te sien, hoe meer sien ek niks.

Weet jy wat dit is


Jou klein wêreld
                                         
As ek so begin, weet dan dat ek alweer omgekrap is.  Dit vat bitter min om my om te krap.  Johan wil hoeka weet waarmee is ek besig.  “Om kak te praat van jou” sê ek.  “Ek hoop nie jy gaan dit op die internet sit nie” sê hy “dis presies wat ek gaan doen” sê ek.  Na soveel jare van saamwees, word daar nie meer doekies omgedraai nie.

Laat ek tot die punt kom.  Gemeet teen mense wat rampe oorleef het, hulle huise verloor het, kinders aan die dood afgestaan het, verkrag is, molesteer is, is my agtergrond of omstandighede iets uit ‘n pragtige droom.  Dan kry ek mos nou die piep as ek hoor van iemand wat nie ‘n ander persoon kan vergewe vir iets stupid uit die verlede want vir hulle was dit ‘n ramp.  En daar word nog geklou aan die simpel ou storietjie.  Weet jy wat is ‘n blerrie ramp jou aap. 

As ek sekere rampe nog nie ondervind het nie, sal ek nooit kan verstaan nie.  Ek sal nie verstaan hoe dit regtig voel om in ‘n vloed of modderstorm of aardbewing al my besittings te verloor nie. Ek kan maar net dink hoe dit moontlik kan voel. Jy sien, ek is nie so stupid dat dat ek dit nie vir myself kan uitwerk nie.   

Weet jy hoe dit voel om nie skoene te hê nie, weet jy hoe dit voel om aan die wêreld uitgelewer te word oor daar nie heenkome is vir jou nie. Ken jy sondagskool liedjies wat jy sing want as Liewe Jesus hoor jy sing dit, sal Hy jou help om deur die nag te kom terwyl die bakkie slinger oor die pad en jy moet vasklou vir jou lewe, en die ander mense is dronk.  Om die owerspel te aanskou wat jy soos al die ander goed net gelate aanvaar soos net 'n kind kan.    

Om te sien hoe sy en haar hele bestaan afkom aarde toe waar sy aangerand word. Om soms dom voor haar te staan oor sy haar eie lewe wil neem en jy nie mooi weet wat eintlik aangaan nie.  Om te sien hoe sy ‘n bottel voor haar mond hou en die alkohol so skoon wegsluk en jy veg om die bottel uit haar hande uit te kry.  Om te sien hoedat sy in die pad afgelaai word dat sy gou-gou in die huis ingaan en vir haar maaksels haar oë wys terwyl die insittende bly sit in die kar waar die satan hom geselskap hou.  En as sy uitkom word sy gevloek.  En as sy dronk is raak sy histeries, en jy weet nie wat nou nie ......Want haar huis is die kar, en so kan ek aangaan en aangaan.  Die maaksels kan nie anders as om alles voor haar deur te gooi nie, want dis hoe die natuur werk, die natuur is wreed. Dis ‘n ramp.

So please, ek wil regtig nie veel van jou klein wêreldjie hoor nie.

Xmas

daar waar die crackers skiet
is nie noodwendig geluk
dalk vir ‘n wyle
dalk ‘n sekond
maar voor jy jou oë uitvee
geslaan en gebliksem
en kinders hardloop beangs rond
en soek na watte
om hulself toe te draai
want die bang-wees
 maak hulle koppe draai
 en hulle vrees
en bid vir liewe Jesus
om hul te beskerm en
hul ouers vir ewig te genees

van die suip en vloek
en haat en varksig-wees
en honde en katte skreeu
en dis ‘n gegil
 wat net nie ophou
en bloed, die loop oor gesigte!
 
O, Liefste Jesus van ons kindertjies
wees tog net eweskielik
‘n Grote Gevaarlike God
maak hulle bang
ja, baie baie bang
dat hulle vreeslik skrik
en gaan slaap
voor die son opkom
en as dit moet
laat hulle aanhou slaap
tot in vir ewig!





Tuesday, 10 January 2012

Onderbroek


Toe ek twee keer per week moet begin wasgoed was dring dit tot my deur dat dit tyd is om pantys te gaan koop.  Ek dra nie net ‘n panty nie, nee, dit moet jockeys wees.  Hierdie satyn gemors laat jou sweet glo ek, ek verkies die sy-gladde veet-bene droë voorkoms.  If you know what I mean.  Van die os op die jas ... Weet julle dat ek in ses maande se tyd presies 1000 kilometers gestap het?  O yes!  As ek in die oggend voor die spieël staan, kan ek my verkyk aan my pap pens.  Waar kom dit vandaan?  Waar sekere dele van my lyf darem kykbaar was, het dit sommer net so verander.  In so ‘n mate, jy kan nie besluit watter deel trek jy eerste aan nie, bo of onder, net ingeval iemand onverwags om die hoek kom.  En die jockeys, ja jy kan die goed jare dra.  Die satyngoed skeur, frommel op ens. raak uitgerafel.  Jockeys is gewaarborg om ten minste 3 jaar te hou.  En jy was dit sommer saam die jeans en lakens en handoeke, as dit vlek, dan is dit nie die ergste nie.  Jy kry baie kleure in die maak. 

Ek is nie goed met shopping nie, en my geheue is ook nie so lekker nie.  Ek kan nooit onthou watter tipe jockey ek dra nie.  Toe ek nog maer was, het ek gehou van die high cut langs die heupe op.  Later het ek per ongeluk weer verkeerdes gekoop, en dit was toe ‘n ander cut.  Maar nog redelik gangbaar.  Ek kon even die g-strings dra.  Laas week toe ek voor die pantyrak staan, toe is ek weer blank.  Daar is French cut en briefs.  Ek sien die dosie is so verander, jy kan nie soos in die verlede dit net oopmaak nie.  Ek wou eers die dosie skelm oopskeur, maar besluit toe om die briefs te koop.  ‘n Medium by the way.  Jare terug was ek bietjie dikker ook, toe het ek large gedra, maar ek weier, ek pas in ‘n medium.  Jy sal nie glo, toe ek by die huis kom en die dosie oopmaak, is dit een groot broek wat daar uitkom.  Ek walg net daar.  Brief beteken knapbroekie in Afrikaans.  Lyk my dan moet die goed styf sit.  Al wat ek toe doen, is om my knieë teen mekaar te druk, so ‘n rol-beweging te maak met my onderlyf,  dan trek die brief makliker oor my maag en bo-bene.  Wat pla is die boonste rek van die brief wat bietjie styf is met die oortrek proses.  Lyk my die pantys se rekke is ook deesdae van ander materiaal, want niks rek as jy my vra nie. Ek vat toe die onderbroek vir ‘n testdrive die volgende dag.  Oefensessie: onthou, ek is ‘n atleet.  Ek is gewoond om kort-kort aan my boude te trek op die pad.  As ek resies doen, en die broek kruip so, dan is ek baie moeg en los die ding dat hy soos ‘n g-string maar daar bly, wat nie baie gemaklik is met al die materiaal nie.  Dan kry ek brandboude.  Terwyl ek toe so stap, begin ek toe dadelik te trek, maar ek kry niks raakgevat nie.    Can you believe, die broek het alles stewig vasgevat, niks kruip rond nie.  Ek kyk die ou aan wat hier langs my loop, hey, sê ek, “hierdie broek wat ek aan het pas wraggies goed” die oomblik so groot, ek moet dit met iemand deel, hy kyk my so snaaks aan, ek dag, moenie vir jou soos ‘n klooster hou nie jong, maar gelukkig toe smile hy so ewe vir my.
                                                       I’m to sexy ...
      




Saturday, 7 January 2012

Waar is die gevoel





Ek het nog nooit ‘n besluit geneem op grond van liefde nie.  As ek terugdink aan die eerste belangrike grootmens-besluit, was dit ook gegrond op wat vir my op daardie stadium na die regte besluit gelyk het, never mind hoe ek gevoel het.  Ek twyfel sterk of ek genoeg 'gevoel' het.  Met my laaste belangrike besluit was dit dieselfde storie.  Ek wonder of ek ooit vir enige iets of iemand genoeg gevoel het in my leeftyd.  Rym dit nie met sommige van my gedigte nie, ja, mens kry soms ‘n swak oomblik, maar gelukkig gaan dit baie vinnig oor.  Ek het gesê dat ek onlangs eers verstaan het van: as jy nie die liefde het nie, dan het jy niks.  Ek het gepraat van die ouvrou en die hond en my betrokkenheid by hulle; daar was naaste-liefde.  Ek het ook gepraat van my ouers.  In my ouers se geval is dit net hulle oumens-onskuld wat hulle laat glo daar is ‘n beter lewe daar buite.  Hulle glo aan die liefde iewers anders tussen twee mense, maar ek kan nie saamstem nie.  Ek sien niks.  Is dit 'n spook-gevoel?  Iets wat baie min mense kan voel aangesien hulle nie met die helm gebore is nie.  Soos ek, ek het nog nooit 'n spook gesien nie, maar is al lastig geval deur whatever.  Ten minste het ek defnitief geweet iets gebeur, maar die liefde-ding is maar duister vir my.  Nou wil julle seker weer spookstories uit my kry.  Ek kan nie heeldag sit en gesels met julle nie.  Dit lyk suspisieus as ek so doening is heeldag tussen die cel en die blog.  Ek dink tog my gedig is gepas vir vandag.  Dis net te uitputtend om dinge saam te wil doen.  Ek vind dit minder teleurstellend om net te doen wat jy moet doen sonder enige verwagting of behoefte aan 'n klein rukkie se gesels of saamwees met iemand, want mense dink dis liefde.  Dis alles snert. (het so baie mense helms?) 

EK KOM TOT DIE GEVOLGTREKKING

Dat dit beter is om nie lief gehê te word nie
en ook om nie lief te hê nie
Daar is niemand wat omgee of jy heeldag in jou nagklere rondloop nie
Niemand wat omgee of jou hare gekam is nie
Niemand wat jy jou drome of denke mee kan deel nie
vir wie jy moet mooi lyk nie
wat jou opgewonde maak nie
wat waardering het vir die dinge wat jy graag perfek wil hê
en daarom laat gaan jy …
en wonder tot op watter graad moet jy  laat gaan om jou en in jou…

Dis alles net ‘n eweredige bestaan in jou eie wêreld en denke
en jy besef  hoekom mense afsonder
hoekom hulle waardes daal en hulle skielik
vir niks en niemand meer omgee

Die drome van eens het vervaag
die gevoelens het gekwyn
die verwagting wat jy gehad het, het verdwyn