Sunday, 31 March 2013

There's a time for us .....


Want dis wat julle weet,
Wat ek wil vergeet.

Want dis jou alewige stellings
Wat my kranksinnig laat.

Want dis wat ek weet
Wat jy nooit gaan vergeet.





Daar kom ‘n tyd in mens se lewe dat jy ‘n sterk gevoel kry om aan te beweeg.  Dis asof omstandighede alles saamval soos die dolosse wat val soos dit moet.  Ek dink ‘n mens is gebore om te swerwe.  ‘n Rustelose siel.  Wat die siele van die wat saam hulle beweeg omkrap.  Ye right.  Dan is dit maar so.  En as ek nou mooi sit en dink aan hierdie dinge, en ek dink aan sekere gedeeltes in die Bybel, dan voel ek nie asof ek iemand te na kom nie.  Daar is sekere regte wat ‘n persoon homself kan toe-eien as die situasie dit regverdig.
                                                                                                      
Ek kan nie glo dat Doodles so diep in my hart gekruip het nie.  Ek het sy hok groter gemaak.  Hy is nou ‘n volwaardige deel van die gesin.  Ou snaaksie, partykeer as ek in die hok staan en krap in sy slaapplek, dan klim hy so ewe in hier langs my verby asof hy wil kyk wat ek doen.  Hy slaap op sy sy, nes ‘n kat.  Eerste keer gedink hy is dood,  roep en roep, maar hy is so diep in droomland, hy hoor niks. 

Daar is altyd keuses wat gemaak moet word.  Ek het simpatie met die posisie waarin jy jou bevind my sussie.  Dis maklik om beter te weet, maar ons is nie in jou situasie nie, en ons is ook nie jy nie, ons dink anders.  Op die einde van die dag verloop al die beplanning in elk geval nie soos wat ons dit voorsien het nie.  Jammer as ek so hard is met die mense na aan my.    

Terug na paragraaf 1.  Waarop stuur die paragraaf af?  Ye right.  As ek ‘n mandjie mielies het, is dit my keuse om daarmee te maak wat ek wil, want wetlik gesproke, het ek dit gekoop.  Almal het gesien toe ek die geld betaal daarvoor.  Dis myne.  Indien ek dit langs die pad in ‘n onbesonne oomblik laat val, en dis vol grond, en ek sit dit terug en stap verder, is dit ook my saak.  Dis myne.  Nou hier kom die moeilike deel.  As ek gesien het jy staan vir my en kyk, en jy sien iets is fout, want die mielies lê die grondpad vol, en jy kom help my nie, wat dink jy gaan my reaksie later wees.  Moet nou nie slim raak nie, onthou die woord later kan 5 minute later wees, of dit kan latere jare wees.  Die punt? Ek sal nie daar wees om die reaksies te sien nie.  Ek sal nie (soos jy) nodig hê om te maak of ek nie gesien het hoe jy met jou mielies val nie, sodat ek jou nie hoef te help nie.  Ek laat die saak hier....

Ek weet julle verwag nou iets eerliks van my.  Ek moet dit van my hart afkry, want dit broei en broei.  Al wat ek my lewe lank gevra het, was ‘n klein bietjie erkenning.  En of dit reg en of dit verkeerd is, wie worry.  Ek het my slegste gegee, en later wou ek net altyd my beste gee met alles wat ek doen, moontlik om met my gewete saam te leef aangesien ek die enigste sondaar is.   En wat my regtig erg beswaard maak, is die feit dat ek blykbaar in my persoonlike  verhouding met mense die onmoontlike verwag.  Ek wou net die bietjie wat in die emmer oor was, mee woeker.  Want in die emmer was ook 'n saadjie wat in my geplant is, dat hopeloos, sleg is.  Whatever.  Laat ek toe dat swakkelinge my kranksinnig maak?
 
Terug na paragraaf 1 en 4.


Sunday, 10 March 2013

So gaan dit maar


Ek het baie werk gedoen die naweek.  Twee notules, die Kerk se boeke, die Kerk se vorms, Kerk toe gegaan, Gunther gevat vir ‘n stap, Kokkie twee keer uit die hokkie gehaal, Doodles gevryf en vlooipoeier gegooi.  Voorberei vir 2 vergaderings vir die komende week.  Navrae op my ander Oord se boeke gedoen.  Intussen nog geclick for my mercy goed.  Gevote vir Gunther.  My “Causes” se petisies afgehandel.  Die bossies buite gif gespuit.  Gunther se siek oor behandel.  Die Kerk se geld getel, my toonnaels gesny.  Intussen gou 2 movies gekyk ook.  Nou ja, daar is nog tyd om gou te blog.  O shit, ek het vergeet om my pruik te was. 

Dit was die gedagte wat vanoggend deur my kop gegaan het toe ek ewe vol sonde die kerkbank warm sit.  Hoe sien ons onsself.  Pasop om nie verward te raak en iewers in te bring: hoe dink jy sien ander jou.  Nee, dis hoe sien jý jouself,  En vergeet nou van jou geloof en Bybelgesig.  Alhoewel die gedagte in die Kerk gekom het, het dit niks uit te waai met jou gevoel vir God nie.  Daar is egter een uitsondering, as dit swaar op jou hart lê, dan moet moet moet jy dit noem.  Ek het nie juis aandag gegee nie, maar toe die liedjie: soos ‘n Hert smag na waterstrome smag my siel na U O God, ....... begin, toe tjank ek sowaar.  En ek het wraggies vergeet om ‘n tissue te vat! 
Gunther het mos die onvergeetlike of is dit nou onvergeeflike daad gedoen!  Wraggies, toe J Vrydagmiddag instap by die huis, en in die gang afstap, en by my studeerkamer se deur kom waar ek en Gunth besig is met ons talle take, toe begin hy grom.  Toe hy sien J kom nog steeds nader ongeag sy waarskuwende gegrom, toe val hy aan.  O my soul!  En hy neuk nie hier onder by die enkels rond nie, nee, hy staan regop en baklei.  J in skok, skop na hom, ek in skok, spring tussen in.  Ek kan nie sien dat Gunth aangerand word nie.  Toe klap ek die deur toe om Gunth weg te kry.  Ek sê: ek sal self my hond uitvat!  Daarna moes ek mooi verduidelik dat Gunth by die klassie leer as iemand aggresief nader kom, moet hy aanval.  Ek het het ook verduidelik dat hy eintlik so bietjie deurmekaar geraak het met wie moet hy byt en wie nie.  Jy weet die arme hondjie is nog nie so lank by die klassie nie.  Ek het darem net nodig gehad om 9 tone se naels te sny.  Die ander een is afgeruk in die proses.  Alles gebeur ten goede.

Nee, ek dink ek misbruik myself.  Ek krap 2x ‘n dag Googles se gate toe, dat hy weer nuwes kan maak.  Dis goeie oefening vir hom.  Hy laat toe dat ek hom vryf.   
I feel trapped.  Daar is ‘n leemte in my lewe.
Hulle wil nie meer hê ek moet my Beradingsdiploma voltooi nie.  Hulle het besluit ek moet ‘n Maatskaplike Werker (Bachelor of Social Work) word, die geld sal ons nie oor worry nie, ons kan ooreenkom of dienste lewer of so iets.  Ek weet nie of ek kans sien hiervoor nie.  Ek het raad gevra van iemand met baie gesag en ondervinding.  Hy sal more met my praat.  My vrees is: wat as ek faal?
Ek wonder: op 50, is al die goed die stres werd?                                                 
Op die einde, sal alles tevergeefs wees, alhoewel ons die tevergeefse pad moet stap.  Niks wat ek doen, geen lesse wat ek leer, kan my verander nie.  Net God kan my verander.  

Monday, 4 March 2013

Thanks




Ek moet seker al hierdie lelike woorde op my blog vervang met sterretjies en ander tekens.  Dis onaanvaarbaar vir julle gelowiges om na daai taal te kyk.  Ek stem saam.  Maar dit voel vir my net so twee-gesig om dit te doen.  Dis wie ek was op daardie stadium, en dis hoe ek gevoel het.  Ek is ‘n vandalis.  Dit klink baie soos die alkoholis (my woordeboek het nog ‘n o in ??) wat ek was, en dit maak dieselfde gevoelendheid in my wakker.  Soos my studies sê: Vergeet van die ...lis en daai ...lis, dis net blerrie sonde.  Ek is op die ...lis stadium.  Ek sou verkies om nie sinnelose gesprekke te voer nie.  Ek kan nie ‘n antwoord uitdink op sulke vrae nie.  Iewers haak iets vas en dan raak ek sprakeloos en dan raak ek vandalisties.  Like you won’t believe it.  Ek skaam my eintlik vir myself.  Daar is nou nie meer mense wat my daaglikse hoogtepunte en laagtepunte met my wil deel nie.  Somehow het ek hulle die hasepad laat kies.  Ek bly nou net stil en verlustig my in my eie humor, en die humor van my diere om my.  Ek verlustig my in my eie probleme en besluite wat ek in die gesig staar.  Die ou diere en die nuwe diere wat bygekom het, daar is nie woorde vir die genot wat julle veroorsaak in my hart nie.   En met tere herinneringe aan die diere wat langs die pad verlore geraak het, soos wat ek baie langs die pad verlore raak.  Om die enigste ware sondaar in my kring te wees, is nogal veeleisend.  Ek moet heeltyd perform om die beste te bly.  Maar dan is dit dalk ook die tyd om een ding van my ouers te sê, dat ongeag wat, hulle nooit ons kinders teen mekaar afgespeel het nie.  Jy vind dit in soveel gesinne.  Dít sal ek altyd van julle twee onthou.  Dat julle altyd daar was om my, ongeag wát, sover moontlik gehelp het.  Thanks.

Thursday, 21 February 2013

Liar

Ek sien die hoofopskrif: Killer regret ......Nou val almal soos dwase vir hierdie ‘regret’. Daar is nie so iets nie.  Dis nie die daad wat die ‘regret’ aanwakker nie, dis die gevolge.  Toe die daad gepleeg was, was dit die regte ding in jou siek kop om te doen.  Toe jy die bottel drank uitgesuip het, was dit die regte ding in jou kop om te doen.  Toe jy jou vrou gemoer het was dit die regte ding in jou kop om te doen.  Die regret is die gevolg wat nou vir jou ‘n las geword het.  Jou vrou het jou gelos, nou het jy kamtig regret.  Dis die kak wat jy gemaak het met jou dronkgat wat nou die gevolge voor jou deur lê.  Is ek die enigste persoon wat deur ander mense kan sien?  Dis eienaardig dat die meerderheid van mense so fokkon stupid is.  I am telling you.  Dis die ou wat gesteel het, wat die gevolge nou moet dra.  Die gesteelde item was aanloklik, jy het dit geneem, dit was verkeerd, maar, waar pas die regret in?  Dis die feit dat jy jou werk verloor wat die regret nou veroorsaak.  As jy kan, steel jy weer dieselfde ding.  Dis maar goed ek is nie die enigste judge in die wêreld nie.  Die ouens sou swaar gelewe het.  Ek is nie ‘n dom poepol nie.  ‘n Goeie voorbeeld is die ou wat gerook het.  Toe hy dit gedoen het was dit lekker.  Hy het nie regret nie.  Hy het maar net ‘n keuse gemaak om op te hou rook.  Regret se moer.

Jou sondige natuur laat nie regret toe nie.  Jy is stof.  Hoe weet ek die dinge?  Want ek is ook 'n sondaar wat al baie foute gemaak het.  Ek weet net dat sekere dinge beter is om nie te doen nie, maar as dit gedoen is, is dit gedane sake.  Dan leef jy daarmee, jy leef met die gevolge, nie die regret nie, dom doos.

Saturday, 16 February 2013

Valentine


Vanoggend staan ek ewe en trek maar die bossies uit.  Met die crime, moet ek maar meeste van die goed doen.  (ja, sissie moet kos maak)  Ek het eintlik om nou die earlike waarheid te praat, gewonder of ek darem rus sal kry in die hemel.  Toe dink ek, wie sê ek gaan hemel toe.  Toe dink ek, wel, met die geloof van ‘n kind, is enige iets moontlik.  

Toe ek nou by die Valentine braai kom, is daar toevallig ‘n sitplek langs Ross en Charlotte oop.  Ek en J gaan sit toe daar.  Ek begin dadelik Charlotte se peanuts te eet.  Ross sê, ek het chips by die huis, maar ek kan nie terug gaan nie, want Simba is baie kwaai.  Huh, ek copy toe nie dadelik nie.  Ross sê, Simba wil nie hê ons moet loop nie, sy karnuffel ons van agter af.  Ons het nou klaar ‘n plan uitgewerk vir wanneer ons terug gaan vanaand.  Charlotte (want sy is die jongste en nog nie so styf in die lyf nie) sal haar aandag aftrek met ‘n stukkie wors, dan gaan ek gou in – anders hardloop sy dalk weg en gaan byt die ander mense.   Nee man, sê ek, ek het net vergeet om jou te sê daar is ‘n effense wanbalans.  Sy maak maar so.  Ek verduidelik so vlugtig .... Nou ja, sê Ross.  Ek vat die stukkie wors terug as ‘n peace offering.  En, vergete is die wanbalans.  Ross vra, wie het vir Simba so mooi maniere geleer.  Maar moenie worry sê sy, as dit moet dan klim ek maar oor die afskorting by die deur.  Ek kyk haar so.  Met daai kort lyfie en kort bene glo ek sy gaan op haar kop val.  Ek glo nie dis nodig nie, sê ek, jy sal sien as jy terug gaan.
 

Ounooi, een van die nuwe intrekkers, kom sit daar by my met haar rooi rok en rooi lippe.  Sewentig.  Elke oggend gaan sy getrou gym toe.  Sy is stewig gebou, met stewige vet.  Dr Gevers het sy vrou se sexy rooi nagrokkie aan oor ‘n wit t-shirt.  Ek gaan gryp hom aan sy tiete.  Hy druk Charlotte se pakkie peanuts bo in vir bietjie meer body.  Ek loop en bedel bene vir Gunther.  Die anties gee vir J chocolates en tjops.  J gaan steel nog wors.  Ek gaan groet my vyande.  Sonder my pruik herken niemand my vir die eerste uur nie.  Ek steel koeldrank by die kombuis.  J wil ry.  Ross sê, alle alle mans is dieselfde.  Mens eet nog dan wil hulle ry: sy kan die perfekte moord vir my uitwerk.  Maar, vra sy baie ernstig.  Kan ek haar rekenaar klasse gee?  Sy het een hele dag gesit en ‘n brief getik op haar celfoon.  Dis was baie uitputtend, want sy moes baie notas maak om alles te onthou.  Sy het dit toe weggestuur vir haar kinders in Amerika, maar al wat daar uitgekom het was,: my fridge is waving me goodbye.  Bel die kinders vreeslik verward, wat gaan aan ma?  Is jy siek, nee man, my yskas gee probleme. 
  

Friday, 15 February 2013

Mara Meraaitjie se suster: kommentaar vir mission accomplish


My suster bly my held. Soms pis sy my so af dat ek sweer ek praat nooit weer met haar nie en onterf haar ook sommer. Want sien, as sy nie 'n ding wil doen nie, dan doen sy dit nie. Klaar. Ek kan dit natuurlik nie verstaan nie.. Want ek sal enige iets vir haar doen! Hoe kan sy nou so wees! Verstaan sy nie hoe ernstig my probleem is nie of hou sy haar nou net stupid en hardegat??? Maar op die einde kry sy dinge reg wat ander nie sal kan bemeester in al hulle sogenaamde eie geskepte glorie. Moral of the story: as sy besluit sy doen niks dan is dit wat jy kry : Niks. Bel, skryf, stuur polisie en taakmag. Daar is "no reply" en "no comment". Maar as Ouma se Meraaitjie 'n mission maak van iets wat haar hart raak, hou sy aan tot daar sukses behaal word. Nes in 'n Shrek movie, and they lived happily ever after.