Tuesday 23 April 2013

Verlos ons van die bose


Ek en Gunth was by die klas Sondag.  Hy raak so opgewonde, hy kan nie wag dat die klas moet begin nie, en dan begin hy hom soos ‘n mens gedra.  Ja, slegte slegte mens-gedrag.  Ek was sommer lus en moer sy tande uit.  As hy ‘n mens was, het ek dit gedoen.  En as hy tog net vir oom Marc, die stoetbul kan aanval, dan is hy vreeslik gelukkig.  Die stomp ou stertjie swaai en waai.  Hy het mooi geleer om sy beurt af te wag.  En natuurlik antie kort-gat, hoeveel keer moet mens nog vir haar sê om nie so naby my en Gunth te loop met haar hond nie.  Amper vreet Gunth hulle op, maar ek het die tande-knyp ketting op hom gehad want ek het so feeling gehad hy gaan iewers hom soos ‘n mens gedra.  Oppad terug dink ek ewe skielik aan my vriendin wat ek vir ‘n kort tyd geken het voordat sy haarself opgehang het in die garage.  En natuurlik loop die trane.  En ek dink soos die oumense sê: die Here weet hoekom sy dit op so manier gedoen het.  En vanoggend sien ek weer ‘n aaklige geval van diere-mishandeling, en ek besef net, daar is nie meer hoop vir hierdie wêreld nie.  Alles is verby.  Dis oor en uit.  Al wat daar nog nog oorbly is om ‘n baie ernstige poging aan te wend om beter te probeer wees.  Ek kan nie sê: om ‘n beter mens te probeer wees nie, want dan kan ek sommer dadelik ophou probeer, niks wat die word ‘mens’ bevat kan meer iets werd wees nie.  Net Jesus kan daardie woord weer betekenis gee.
Met al die ontelbare ongeregtigheid wat aan die hulpelose gedoen word, is dit ‘n baie swaar las wat die aarde dra.  En die slim-janne wat sê daar was mense baie lank terug, nog voor die Egiptenare, ja ek kan dit glo.  En ek glo die aarde het hulle verwoes.  Ek wonder of die aarde dit pay-back noem, al die fratse ens.  Die aarde kan nie kies wie in vloede gaan sterf of so iets nie.  Die aarde kom tot ‘n uitbarsting en wat in die pad is moet ongelukkig sterf.  Dis al die pyn wat opgesluit lê van die skepping.  Van die bome en al die diere wat God geskape het.  Dit lewe – hoeveel pyn is in die see?  Hoeveel krete en hulpgeroep is daar binne in die water?  Die uitwissing van alles wat God geskape het, in die lug en in die atmosfeer hang die krete van ons geliefde nalatenskap wat ons moes oppas. Wat ons nie mishandel nie, vreet ons op. Dan dink ek weer aan die ander seun wat ook ‘n einde aan sy lewe gemaak het, sy woorde was: die wêreld is nie vir my nie.

Saturday 20 April 2013

Monday 8 April 2013


Ek het gedroom ‘n man sit by ‘n tafel, die aand voor my seminaar begin.  Hy sê vir my: dit gaan nie oor jóú nie.  Die Seun van die mens moet verheerlik word.  Ek werk nog die boodskap uit.  Bolangs verstaan ek dit, maar ek weet daar is nog iets daaromtrent wat ek mis.
Ek het gedink hoe meer kennis mens bymekaar maak, hoe meer verander jy.  Wel, tensy daar fout is met my, werk dit nie so nie.  Ek is nog steeds net Mara.  Glo dit nou of nie.  Niks het verander nie.  Onderliggend is dit nog steeds dieselfde mens.  En sover ek die mense om my bekyk, mense met geleerdheid, sien ek net ‘n swakheid deurskemer by elkeen van hulle, uit my oë natuurlik.  Natuurlik is dit verkeerd om dit te sien en om so ‘n stelling te maak.  Ek wonder of dit my eie swakheid is wat weerkaats na my toe?  En dit laat my terugtrek dat hulle nie naby my kan kom nie.  Ek doen my klas, ek eet sonder dat ek genoodsaak voel om ‘n gelselsie aan te knoop, ek besoek die badkamer, ek gaan sit op my plek en gaan aan met die klas.  Sonder een oomblik van ongemak.  Ek bedank wel soos ‘n opgevoede persoon die mense wat hard gewerk het om die seminaar ‘n sukses te maak.
Is dit ‘n slegte hart wat binne my is?  Of is dit maar net hoe ons almal is, ons is mense.  Die pad wat ons gestap het, of die tred waarmee die wêreld al hoe vinniger draai, laat sy merk op ons uiterlike.  Ons kan nie meer fokus en ‘n persoon sien soos Jesus sou sien nie.  Is dit die liefde wat ontbreek?  Soos iemand altyd gesê het, die oë is die hart van die siel of so iets.