Tuesday 23 April 2013

Verlos ons van die bose


Ek en Gunth was by die klas Sondag.  Hy raak so opgewonde, hy kan nie wag dat die klas moet begin nie, en dan begin hy hom soos ‘n mens gedra.  Ja, slegte slegte mens-gedrag.  Ek was sommer lus en moer sy tande uit.  As hy ‘n mens was, het ek dit gedoen.  En as hy tog net vir oom Marc, die stoetbul kan aanval, dan is hy vreeslik gelukkig.  Die stomp ou stertjie swaai en waai.  Hy het mooi geleer om sy beurt af te wag.  En natuurlik antie kort-gat, hoeveel keer moet mens nog vir haar sê om nie so naby my en Gunth te loop met haar hond nie.  Amper vreet Gunth hulle op, maar ek het die tande-knyp ketting op hom gehad want ek het so feeling gehad hy gaan iewers hom soos ‘n mens gedra.  Oppad terug dink ek ewe skielik aan my vriendin wat ek vir ‘n kort tyd geken het voordat sy haarself opgehang het in die garage.  En natuurlik loop die trane.  En ek dink soos die oumense sê: die Here weet hoekom sy dit op so manier gedoen het.  En vanoggend sien ek weer ‘n aaklige geval van diere-mishandeling, en ek besef net, daar is nie meer hoop vir hierdie wêreld nie.  Alles is verby.  Dis oor en uit.  Al wat daar nog nog oorbly is om ‘n baie ernstige poging aan te wend om beter te probeer wees.  Ek kan nie sê: om ‘n beter mens te probeer wees nie, want dan kan ek sommer dadelik ophou probeer, niks wat die word ‘mens’ bevat kan meer iets werd wees nie.  Net Jesus kan daardie woord weer betekenis gee.
Met al die ontelbare ongeregtigheid wat aan die hulpelose gedoen word, is dit ‘n baie swaar las wat die aarde dra.  En die slim-janne wat sê daar was mense baie lank terug, nog voor die Egiptenare, ja ek kan dit glo.  En ek glo die aarde het hulle verwoes.  Ek wonder of die aarde dit pay-back noem, al die fratse ens.  Die aarde kan nie kies wie in vloede gaan sterf of so iets nie.  Die aarde kom tot ‘n uitbarsting en wat in die pad is moet ongelukkig sterf.  Dis al die pyn wat opgesluit lê van die skepping.  Van die bome en al die diere wat God geskape het.  Dit lewe – hoeveel pyn is in die see?  Hoeveel krete en hulpgeroep is daar binne in die water?  Die uitwissing van alles wat God geskape het, in die lug en in die atmosfeer hang die krete van ons geliefde nalatenskap wat ons moes oppas. Wat ons nie mishandel nie, vreet ons op. Dan dink ek weer aan die ander seun wat ook ‘n einde aan sy lewe gemaak het, sy woorde was: die wêreld is nie vir my nie.