Saturday 17 March 2012

Die Familie 3/7

Dis wat ek die emosie noem, onbeskryflik, wat in my is wanneer ek so na my Gunthie Baby kyk.  Ek kan dalk ‘n paar tafelmaniere by hom leer.  Of bullshit-dogshit hy my net?  Terwyl ek by hom staan dat hy sy pellets eet, vat hy tussen twee en drie op ‘n slag in sy groot bek, en word die kos nou mooi gekou voor dit ingesluk word.  Come on Gunth.  Jy is wraggies nie so ordentlik nie.  Dis seker net ‘n skelmstreek om my langer by jou te hou.  Hy draai altyd sy groot ou kop so skeef weg van my af,  dat hy my nie in die oë hoef te kyk nie.  Skelm.  As hy in sy hok lê sien jy ook net hoe ruk die groot kop as dit lyk asof ek by die deur wil uitgaan.  My seuntjie.  Toe die SPCA destyds gesê het hierdie tipe honde spring hoog, het ek hulle nie juis geglo nie.  Gedink hulle soek weer net fout met die heining.  Met die tyd het ek gesien hy kan spring soos ‘n bok.   Die dogwhisperer van Gauteng sê hy is meer Boerboel as Mastiff.  Ek weet ook nie waar kom die “whisperer” vandaan nie, want toe hy vir Gunthie kom afrig het, het sy ou oortjie onder die ketting belang, en toe bloei hy.  Agterna het ek so sleg gevoel dat Gunth. so aangerand is.  Hy weet mos nie wat aangaan met die siek spul hier om hom wat iets probeer doen wat hy nou nie juis kop of gat uitmaak nie.  Hy het op een stadium sommer in die middel van die pad gaan lê en geweier om verder te loop.  Hy was blerrie moeg.  En toe die ou hom trek en wil forseer om verder te loop, toe dink Gunth. man, ek vreet jou stupid loopband sommer net hier op.  Die whisperer moes toe net keer vir sy tools of daar bly niks oor nie.
My ander seuntjie, Ronnie, het vanaand op ‘n rotnes afgekom, weet nie waar nie.  Dis nou al die 5e rot wat hy hier aandra vir ons.  Sissie red elke keer die ou goedjies se lewens, maar ons begin al sleg voel oor hulle nou iewers op straat moet sit as gevolg van Ronnie-Seun.  Gunth., Ronnie en Kokkie is aangeneem.  Kokkie-girl is ‘n tipiese vroumens.  Sy skree soos ‘n slet op hitte as sy my sien.  En as ek eet, wil sy ook hê.  Sy aard nogal na my, beneuk en lief vir kos.  Kaas is haar gunsteling kos, en niknaks.  As ek en sy omgekrap is, sal ietsie om te eet ons dadelik laat bedaar.  Ek dink Kokkie is ‘n siener.  Elke keer as ek skelm probeer eet, begin sy so te skree dat ek my gat moet roer om klaar te maak voor sissie my sien.  Mans kan net eenvoudig nie verstaan dat ‘n vrou se gemoedstemming bepaal word deur hoe lekker en baie sy eet nie.  Elkeen het sy eie stap, sy eie maniertjies.  Ronnie stap met sulke afgemete treë en ietwat slap lyf.  Een nag toe ek toilet toe gaan, toe trap ek op iets nat.  Ek sit toe maar net met my voete in die lug en pie en trap sulke lang treë terug bed toe.  Later toe sien ek dis ‘n duif se binnegoed wat Ronnie net so gelos het vir my.  Om hulle dop te hou bring ‘n weemoed oor my wat onbeskryflik is.  Ok, ok, sissie is goed vir ons.  Julle mense darem.  Kan ek nou aangaan.  Ronnie sal nie tot rus kom in die oggend as ek nie opgestaan het nie.  Hy soek niks by my nie, hy wil net sien ek klim uit die bed uit, dan loop doen hy iewers kattekwaad.  Dis die rooi kat op die foto langs die blompot.  Binne die pot is Tommy, die siamees, wat vir sissie beseer het.  Onthou julle, sissie het nie ‘n hemp aangehad nie.  Tommy is rustig.  Hy hou van speel.  Een van die tienerkatte het besluit Tommy is sy pa, en die twee is die heeldag doenig met mekaar.  Hulle speel en gaan te kere vir ‘n vale en slaap dan die hele dag saam op die dak.  Goed, nou ken julle ‘n deel van die familie.