Sunday 30 December 2012

Aanhouer wen


Dis vrekwarm vandag in Gauteng.  Ons kan nie beweeg nie.  Te warm om te eet.  Ek het darem so ver gekom om met my studies te begin.  Ek besef nou eers die omvang van die materiaal wat ek gekry het.  Ja.  Ek het tot ‘n kruispad gekom.  As ek nie myself help nie, gaan my siel verlore gaan.  Dit wil vir my voorkom asof J altyd daar is om my op die rand van ‘n afgrond te bring.  En ek sal moet kies, of ek gaan spring of nie.  Dit laat my dink aan die gedig uit my boekie van die trein.  Dis hoe ek destyds gevoel het toe ek ook op die rand van ‘n afgrond gestaan het, wat uitkyk oor die hel.  Asof ek die gedig profeties oor myself uitgespreek het, en veral die laaste paragraaf.

As ek só kyk
sien ek die trein
 somtyds stop hy
laai mense op
ander kere
snel hy verby

 dis vir jou en my
om te besluit
klim ons op
of sal ons bly

waar hy gaan
dié weet ek nie
of hy my weer gaan aflaai
dít weet ek ook nie

maar ek verseker jou
sóú ek opklim
sál jy die prys betaal
  
Dis eienaardig dat dit elke keer  J moet wees wat die “oorsaak” van my ellende is.  Is dit regtig so?  Kyk ek die hele situasie heeltemal mis?  Is die waansinnige oomblikke regverdig?  Is dit moontlik om vrede te maak met sekere swakhede van iemand?  Kan ek dit nie net aanvaar dat die lewe nie perfek is nie?  Soos julle weet het ek mos nie foute nie.  Zero tolerance, no mercy.  It is my way.  Maar ek is ook nie so waansinnig dat ek nie weet: the right way is my way. Ok, lets cut the bullshit.  There is only my way.  Wel, daar is ons nou by die lysie vir die Nuwe Jaar.  Ek het ingeskryf vir 3-Jaar Diploma in Christelike Berading.  Moet nou nie skrik nie.  Ek gaan nie die mense leer van zero tolerance nie.  As ek eers geleerd is, is daar net een les vir my klassie.  Shurrup en doen wat ek sê dan sal dit met julle goed gaan.  Sien, mens moet ferm wees met die spul.  Wat ook vir my ‘n raaisel is, is hoedat ek van my goddelose weg gedraai het, en nie weer teruggegaan het op daardie pad nie.  In die proses het daar ‘n ander skroef uitgeval.  Soos julle onthou, dat ek aanhoudend die sin van my lewe bevraagteken het die laaste tyd.  Is ons besig met opleiding vir die hiernamaals soos baie gelowiges glo.  Of was dit nodig vir my om gek te raak sodat ek moontlik, as dit God behaag, ander gekkes kan verstaan?  Want ek weet, hierdie studies is nodig om my weer op track te kry.  Om weer in diepte te leer wie is die God voor wie ek staan.
Ja, natuurlik het ek planne vir my Gunth ook.  Ons het vanoggend 7uur al teruggekom van ons 5km stap af.  Hy weet al om nie links of regs te kyk vir ander honde nie.  Hulle kan maar blaf.  Ons stap ewe vernaam langs mekaar in die straat, die wêreld behoort aan ons.  Ek wil Gunth vat vir opleiding.  So, my lysie vir die Nuwe Jaar bestaan uit 2 goed uit.  Wat?  Nee man, dis gin te min.  As ek my studies mooi op datum hou, behoort die kop standvastig te bly en dan sal Onse Vader sorg dat ek die res reg doen.