Sunday 29 January 2012

Die oog na bowe Psalm 123




Kyk na jou hande soos wat iemand anders daarna sal kyk.  ‘n Baba wat so afhanklik is van jou aanraking, baie belangriker as jou gesig op daardie stadium.  Ek glo nie hulle kan op so jong ouderdom onderskei tussen lelik en mooi nie.  Ek het natuurlik nie ‘n probleem nie, my hande en my gesig is baie mooi.  Julle mag dalk die goedjies verwar het, nie almal is so gelukkig soos ek nie.  Om die hulpelose dingetjie liefdevol vas te hou, versorg en te streel.  My sussie het altyd my seun Marco se gesiggie van bo na onder oor die ogies gestreel, en hy het stil gelê en haar streling gevoel.  My ou bul Gunther kyk weer elke oggend eers na my hande om vas te stel of daar iets is vir sy pens, voor ons mekaar amptelik groet. 
... Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is ons oë op die Here onse God, totdat Hy ons genadig is.
... wees ons genadig Here, U het die wêreld in U hande.
Ons grootouers het hul hande deurgewerk om te oorleef.  Hulle was spaarsamig, en dis die mense wat jy nou in Aftreeoorde kry.  Maar niemand praat oor die swaar maer jare nie.  Vir ons lyk hulle soos welaf mense.  Ryk ou donners.  Jy weet mos jou oë kan misleidend wees.  Dis soos die baba wat dink dat almal mooi is. 
My oupa was na sy aftrede genoodsaak om die begraafplaas te skoffel vir ekstra geld.  Wanneer dit vakansie was, is ek gestuur om die blikbak wat so mooi toegedraai was in ‘n vadoek vir hom te vat, met sy pap en sous.  Of pap en swart koffie.  As jong kind van ongeveer 10 jaar was ek nie juis gepla om ‘n geselsie aan te knoop nie.  Ek dink ek sou graag vandag op een van die grafte by hom wou sit en hoor wat dink hy van al hierdie dinge.  Ek sou hom ook vra hoe is dit dan dat die mooiste meisie op die dorpie in die gereedskapkamer van die begraafplaas gekry is met ‘n tou om haar nek.  Ek sou vir hom dankie sê dat daar ‘n plekkie in sy huis was vir my.  Ai ...
Ek het ook graag buite op die kolebak gestaan en halleluja liedjies sing as hy wou rus.  Dan verskree hy my, en my ouma troos: ag ou maratjie, een van die dae is hy nie meer hier nie, my kind.  Bly tog maar stil.  Dit was baie erg vir my.  Die kolebak ... o ja, 'n ander ouman het eendag toe ek weer so lekker sing kom kuier.  Vriende van ver.  Toe wil hy vir my geld gee as ek hom laat vat aan my.  Ek het my ouma gaan vertel.  En, by die ouetehuis was 'n ouman in 'n rystoel.  Hy kon nie lekker praat nie.  Hy het my altyd sy tottie gewys.  Hy het goed betaal.  Hy het paar twee sente gegee.  Dan kyk ek, en dan gaan koop ek toffies.
O nee, my gedagtes het nou weer te ver teruggegaan.  Noudat ek praat van ‘n delivery, ... dis nie die eerste delivery wat ek moes maak nie.  Die oumense het mos altyd kos oor en weer gestuur.  Dis net dat hierdie spesifieke een nie heeltemal suksesvol was nie.  Ek weet julle gaan hiervan hou.  Next time.  Onthou dan net, mens oordeel nie.  Vra jy nou wat is die les vir vandag?  Hande is goeie goed, dit kan jou in die moeilikheid ook laat beland.