Thursday 12 January 2012

Weet jy wat dit is


Jou klein wêreld
                                         
As ek so begin, weet dan dat ek alweer omgekrap is.  Dit vat bitter min om my om te krap.  Johan wil hoeka weet waarmee is ek besig.  “Om kak te praat van jou” sê ek.  “Ek hoop nie jy gaan dit op die internet sit nie” sê hy “dis presies wat ek gaan doen” sê ek.  Na soveel jare van saamwees, word daar nie meer doekies omgedraai nie.

Laat ek tot die punt kom.  Gemeet teen mense wat rampe oorleef het, hulle huise verloor het, kinders aan die dood afgestaan het, verkrag is, molesteer is, is my agtergrond of omstandighede iets uit ‘n pragtige droom.  Dan kry ek mos nou die piep as ek hoor van iemand wat nie ‘n ander persoon kan vergewe vir iets stupid uit die verlede want vir hulle was dit ‘n ramp.  En daar word nog geklou aan die simpel ou storietjie.  Weet jy wat is ‘n blerrie ramp jou aap. 

As ek sekere rampe nog nie ondervind het nie, sal ek nooit kan verstaan nie.  Ek sal nie verstaan hoe dit regtig voel om in ‘n vloed of modderstorm of aardbewing al my besittings te verloor nie. Ek kan maar net dink hoe dit moontlik kan voel. Jy sien, ek is nie so stupid dat dat ek dit nie vir myself kan uitwerk nie.   

Weet jy hoe dit voel om nie skoene te hê nie, weet jy hoe dit voel om aan die wêreld uitgelewer te word oor daar nie heenkome is vir jou nie. Ken jy sondagskool liedjies wat jy sing want as Liewe Jesus hoor jy sing dit, sal Hy jou help om deur die nag te kom terwyl die bakkie slinger oor die pad en jy moet vasklou vir jou lewe, en die ander mense is dronk.  Om die owerspel te aanskou wat jy soos al die ander goed net gelate aanvaar soos net 'n kind kan.    

Om te sien hoe sy en haar hele bestaan afkom aarde toe waar sy aangerand word. Om soms dom voor haar te staan oor sy haar eie lewe wil neem en jy nie mooi weet wat eintlik aangaan nie.  Om te sien hoe sy ‘n bottel voor haar mond hou en die alkohol so skoon wegsluk en jy veg om die bottel uit haar hande uit te kry.  Om te sien hoedat sy in die pad afgelaai word dat sy gou-gou in die huis ingaan en vir haar maaksels haar oë wys terwyl die insittende bly sit in die kar waar die satan hom geselskap hou.  En as sy uitkom word sy gevloek.  En as sy dronk is raak sy histeries, en jy weet nie wat nou nie ......Want haar huis is die kar, en so kan ek aangaan en aangaan.  Die maaksels kan nie anders as om alles voor haar deur te gooi nie, want dis hoe die natuur werk, die natuur is wreed. Dis ‘n ramp.

So please, ek wil regtig nie veel van jou klein wêreldjie hoor nie.

Xmas

daar waar die crackers skiet
is nie noodwendig geluk
dalk vir ‘n wyle
dalk ‘n sekond
maar voor jy jou oë uitvee
geslaan en gebliksem
en kinders hardloop beangs rond
en soek na watte
om hulself toe te draai
want die bang-wees
 maak hulle koppe draai
 en hulle vrees
en bid vir liewe Jesus
om hul te beskerm en
hul ouers vir ewig te genees

van die suip en vloek
en haat en varksig-wees
en honde en katte skreeu
en dis ‘n gegil
 wat net nie ophou
en bloed, die loop oor gesigte!
 
O, Liefste Jesus van ons kindertjies
wees tog net eweskielik
‘n Grote Gevaarlike God
maak hulle bang
ja, baie baie bang
dat hulle vreeslik skrik
en gaan slaap
voor die son opkom
en as dit moet
laat hulle aanhou slaap
tot in vir ewig!





No comments:

Post a Comment