Friday 23 December 2011

27 Desember 2006 Rou uit my dagboek

MY HERDENKING 27 DESEMBER

Net U,  God, Kan my red!

Die begin: 25 Oktober 2005

26 Oktober 2005

Dan moet ek

weer oor begin, van voor af
die rus by U soek
flirt met die besoeker
die gehuppel
die getrippel

wat kry ek daarvan
hier staan ek kruppel
my ego gekrenk
na wie kan ek myself wend
dis net U wat my siel kan lig
uit die donker diep put
of
gaan U my eers straf
my uitlos dat ek my
hart flenters krap
om my siel by te kom

2 November 2005

Ek voel soos 'n wurm.  Ek kan nie twee plekke dink nie.  Wat doen ek?  Ek het nog 'n geleentheid om myself reg te ruk, alreeds dalk amper te laat, maar ek glo ek kan dit nog doen.  Terwyl ek so dink, sê iets dadelik vir my, "dis nie so erg nie"  Ek pla mos niemand nie.   NEE MARA! JY DOEN.  Mense by jou verloor respek vir jou.  Jy verag jouself.  Is daar nie iets anders waarop ek kan fokus nie?  Iets materialisties?  Nee, dit gaan niks vir my doen.  Ek sal moet drasties optree teen myself.  - skedule vir sekere tye van die dag wanneer ek weet ek gevaarlik dink.

3 November 2005

Here, ek moet net eers waarneem en nie deel,  alleen deel in u krag.
Beheer my gedagtes. Amen

 die stryd hou aan en aan, dae word weke, en weke weer maande ....
It's Party Time!

GR00T-OOG

hou op om te loer
jou oë sal uitval

Kyk !
lyk of sy suip
wel, sê sy
daar is niks om voor nugter te bly

as ek geolie is
is daar niks wat ek mis
gesels ek en sy na hartelus

ons praat snert !
lag vir mekaar !                 

dan raak ons moeg
gaan doedoe vroeg

Mara en ek

8 November 2005:  Ek het ligte neiging tot drank.  Ek sal sommer elke aand suip as dit van my afhang.  Hoekom kan almal nie net weggaan, sodat ek my gang kan gaan?  Julle pla my.


15 Januarie 2006

Gaan vir die eerste keer kerk toe.  Dis waar die gedig: Hy wil my nie los nie, vandaan kom.  Ek sit agter, ek het 'n mooi rok aan, .... my oë traan van die rook, gaan kyk, iets brand 


It's Party-Time!


In ‘n dronke

swakke oomblik
spill ek die beans!

die goeies
weet nou als van my
ag nee, al my swakhede
op die skinkbord
hou ek dit uit
en hul bie
vir die hoogse prys
wat’s om die lyf
om my siel te wen!

ek sal moet my kop wegdraai
jy weet nooit
vir wie hul wat sal sê
wil eerder nie sien

die geloerdery
na my


30 Januarie 2006:  Ek is hewig beswaard oor ek God aanhoudend faal.  Hoe slegter ek voel, hoe meer rook ek.  Ek het vreeslike woedebuie.  Daar is 24uur per dag 'n stryd binne my oor my sondes.  Ek kry nie woorde om te bid nie.


26 Maart 2006:  Word gedoop.  Voel nie soos ek gedink het ek gaan voel.  Alles is dieselfde.  Ek gaan alles reg doen van nou af.  Wel, toe nie.


15 Junie 2006

Die Stem in die nag:  Hy sê vir my:  Ek gaan om vir julle plek voor te berei.

It's Party-Time!


In sak en as

is ek vanaand

my gedagtes veeleisend
ek wil eerder nie dink
ontstel my net
ek raak bedroef

hoekom doen ek dit
doen ek dit aan myself

hoekom beproef ek my
beproef ek myself

moenie kyk …
moenie praat …

O ! die stryd
ek staar na my

Mara



24 Julie 2006

Droom:  Groot vet man lê op bed.  Ek vra:  wanneer gaan daar uitkoms wees?  Hy antwoord:  "Dis nog nie donker genoeg nie.  Wanneer dit donkerder is dan sal God se uitkoms tot volle reg kom"
.... ek verstaan nie mooi nie.

Alweer

vervalle
 alweer nie meer
daar doen ek dit weer

hoeveel meer
voor ek omkeer
hoeveel keer
sal ek probeer
om nie meer
te alweer

ja kyk maar
ek worry nie
dink maar net
wat jy blerrie-wil

Reg of verkeerd

12 November 2006:  Ek is by die Kerk.  Ek voel vreeslik hartseer.  Ek voel God is by my, en dit gaan deur my kop:  Al vergeet ek van God, Hy vergeet my nooit nie.  Dis sy boodskap vir my vir vandag. My trane loop.  Ek huil openlik gedurende die diens en gee nie om wie vir my kyk nie.

24 Desember 2006  Die stryd hou aan ... Dis "PARTY-TIME" 

25 Desember 2006

Ek gaan kerk toe.  Kom terug, voel vaak en gaan slaap sommer 12uur die middag.
Droom:  Ek maak my oë oop.  My hele lyf is vasgebind met boomwortels.  Dis so styf, ek kan nie beweeg nie.  Ek raak beangs, Ek skree vir my ma om my te kom help, sy skree ewe sarkasties terug, ek besef niemand kan my help....  My selfoon begin biep, daar is 'n boodskap vir my .... ek ruk en pluk, probeer wegkom van die vrees ... Daar is hande om my kop gevou ... My ma staan in die gang, vyandig ... Die Stem sê:  In die Naam van Jesus Christus maak daai bande los!  In die Naam van Jesus Christus maak daai bande los!  Aanhoudend, ek skree dit agterna.  My ma skree dit ewe sarkasties saam met 'n snedige gesig.  Sy maak my bang.  Onheil is om my en op my. Ek word wakker.  Ek is verskriklik bang.  Ek weet:  dis my laaste waarskuwing:  ek moet bande breek met die wêreld, en net in die Naam van Jesus Christus sal dit gedoen kan word.  It's the end of the line.  

26 Desember 2006

Ek is erg gesteurd oor die droom.  Ek is dood-bang.   Ek het 'n eindpunt bereik.  Ek gaan besoek iemand.  Daarna gaan ek na my sussie toe.  Dit eindig in "Party-time"

Die bont-vraag

agter haar
kliplyf

dit wonder:
 wat is daai nat goed
dit rol af haar wange
- klad sy dit
met toiletpapier

moenie kyk


Nee,

moenie kyk
as my siel
bloot lê in sig

moenie kyk
dit mag jou dalk kwets
**

27 Desember 2006

Ek bad lekker.  Ek vra God om my so skoon te maak, soos die bad my lyf gemaak het.  Ek voel verkwik.  Ek stap oor na my arm kerkmense toe.  Ek het 'n behoefte om by hulle te wees.  Ek stap in, gaan sit in die hoek van die sitkamer, en begin te huil en dit sit om in ween en ween en ween, my verdriet is so groot, ek kan nie praat nie, hulle sit doodstil, hulle praat of roer nie.  Toe ek bedaar, staan hulle op en Manie haal sy botteltjie olie uit.  Hy vee dit oor my kop, hulle hou my vas en bid 'n eenvoudige gebed. Hulle vra nie een enkele vraag nie.  Ek hang nog so rukkie rond, toe loop ek weer.  

Is dit God se Swaard wat my liggaam en siel deurdring?  God het dit nodig gevind om my te los dat die sonde my totaal afbreek.  Dis of alles of niks vir God.

My Heiland, strek oor my U hande!
U, U alleen verbreek die bande,
nie ek, nie ek, O Heer!

No More Party-Time!
25 OKTOBER 2005 - 27 DESEMBER 2006
DIE PAD NA GOD


Vir U alleen

wil ek behaag 

ek wil stap met sonlig-treë
glinsterend my lyf
oë wat gloei
lippe wat oorloop
van U heilige Woorde

vir U alleen
wil ek aanbid

vir U alleen
wil ek die genot aanbied
van hul verwonderde kyke
is dít dieselfde vrou?

vir U alleen
wil ek behaag

Help my dan



Job 33:14-18


Want God spreek op een, ja op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.  In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimering op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.

27 JUNIE 2008
EK GAAN IN AFSONDERING:  GOD DEEL MET MY SY LIEFDE EN BEKOMMERNIS VIR SY SKAPE, WEEREENS IS EK SO VERDRIETIG VIR SY LIEFDE SO GROOT.  MAAR DIS NIE MY VERDRIET WAT EK VOEL, DIE VERDRIET WAT EK ERVAAR IS SYNE.  


Johannes 21:15-17
Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief?  En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet, Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.

DIE HERE IS MY HERDER


My oe, opgeslaan na bo
Verwagting, vol in atmosfeer

My Skrif, ingeskryf tussen dink en slape

Wagtend, onrustig
ongeduld my beker loop oor

Wanneer  Wanneer
Sal daai vet man opstaan ...

Wanneer?  Wanneer?



NA WATERS WAAR RUS IS




No comments:

Post a Comment