Friday 16 December 2011

Wees my genadig

Die besef

het ek my lewe lank
 van U gekry
maar verwerp
en weggegooi

ek soek ‘n vader
hy moet my vashou
nie suip
uit ‘n blink wynsak

ek soek ‘n man
wat my sal liefhê
bemin vir wie ek is

so ironies -
niks van dit gekry
ek roep Pappa!

maar dis Abba
wat my weeklaag hoor

Abba!
wees dan die Vader vir my
wees dan
die Pappa vir my
wees dan
die Man vir my


Waar is die krag

wat ek nodig het
om hieruit te kom
soveel afdraaie
ek voel en vat
maar nie een is goed

ek kry niks gedoen
ek kry niks gedaan
my gedagtes soos voelers
ek steek uit, waar’s die haakplek

ek wil, wil ek?
niks beweeg my
ek wag, onrus maak my klaar
ek vroetel

ek weet wat moet
en nog beter, wat is goed
en ook van God se genade
en bowenal Sy liefde

maar die kettings
trek my onder
en ek wonder

wat sal my tog laat beweeg
my net ligter maak
sodat die eerste paar tree
miskien net vir 'n rukkie
sal voel soos sweef
dat ek ten minste net
die aanloop kan oorleef

Maar ek voel so

huiwerig

dis makliker net voort te gaan
gewete toe te klap

hierdie skuldgevoel

 veel swaarder
as die sonde wat ek doen
my goeie bedoelings
 ‘n las vir my

dis makliker
net voort te gaan

 maar om een of ander rede
bly die gevoel terugkeer
dat ek weer moet probeer

al voel ek nie so

Stil

dis wat ek is
weet nie
wanhopig

kan ek tog maar nie
net laat los

alleen

dis wat ek is
weet nie
mistroostig

kan aan geeneen dink
wat my kan help
om te laat los

wagtend

dis wat ek is
weet nie
angstig

help my God
om te laat los

Ek soek weer

die gelowiges op,
die woorde val op klip

ek vra my hart
om ‘n spons te wees
maar hy wil nie hoor nie!

as jy dan nou nie wil nie, my hart
wat dan van my gedagtes?

gedagtes!
wil julle dan nou nie maar
 hoor nie?

Moenie, Mara

jouself mislei
en boonop walg,
jy weet goed
die besoeker
berei jou galg

wat is dit
 met die gevallery
weet jy dan nie
jou brein lê
in stukke op die sand?

Ag nee Mara
  
Waar is jou selfrespek?

My selfrespek

sê Mara,
het ek verloor
toe niemand meer
omgegee het vir my

toe ek alleen moes veg
vir oorlewing
en plakkers my omgewing
besoedel het
met reuke só sleg
dat jou neus uitbrand
en jou harsings skud

maar aan die ander kant

sou ek alleen wees
sonder die peste,
sou ‘n reus
van ‘n ander aard
my in algehele afsondering vind,
gryp,
en heeltemal opvreet

Kan jy lees tussen die lyne?

Ek smeek

en ek kerm
gee tog aan my
al daardie goed
wat geskrywe staan
in die Boek

gee tog aan my
‘n groter gedagte
om al hierdie dinge
in vas te hou

gee tog aan my
‘n aanhoudende begeerte

gee tog aan my
dan slegs U genade

Dan sal ek vergeet

van alle ander dinge
myself leegmaak
dat daar genoeg plek is
wat U kan vul

Vra Mara





No comments:

Post a Comment