Thursday 15 December 2011

Lieg Moeders ook?


MOEDERS


 is eienaardige skepsels.  Hulle verstaan hulself nie aldag.  ‘n Mens kan verstaan dat hulle soms deurmekaar raak want kinders put hulle uit op allerhande maniere.  Kinders is die oorsaak dat hulle soms wit leuntjies moet vertel (veral vir pa’s en onderwysers en defnitief die familie). 

Dis ook nodig om ‘cool’ te probeer wees – eintlik ‘n vereiste.  Kinders vergelyk hul vriende se ouers met hul eie ouers – daarom die ‘cool’ maar nie te veel, anders moet hulle weer skaamkry vir jou.  Wanneer daar nie genoeg kos is nie, staan moeders hul deel af aan kinders sonder dat iemand dit kan sien. 

Wanneer ‘n pc-game baie geld kos en jy maar daarvoor betaal, vertel jy vir almal dit was op ‘special’ anders sou jy dit mos nooit gekoop het nie. 

Wanneer die pc oppak en baie mense sê dis die kinders se  skuld, bevestig jy dit halfhartig, en begin dadelik om wasgoed te was dat die mense kan sien die onderwerp word nou nie verder bespreek nie, jy het nog baie ander take wat moet aandag kry.  Maar terwyl jy besig is dink jy klomp verskonings uit wat die oorsaak kon wees  – niks kan in elk geval vir altyd hou nie -  daar gebeur ook snaakse goed want om een of ander rede lyk die kinders se selfone nie altyd soos dit die vorige week gelyk het nie.          

Wanneer kinders se ‘dinge’ hand uitruk en daar moet verantwoording gedoen word, verander moeders in advokate wat kruisverhoor toepas – soos die verhoor verloop moet jy natuurlik kort-kort van taktiek verander en wanneer jy dink die tyd is reg (sesde sintuig skop in) dan raak jy vreeslik aangedaan en pik ‘n traantjie weg (darem so dat almal dit kan sien).  Ek meen, ons kyk almal tv en dis nie net die kinders wat blootgestel word nie. 

Verder weet pa’s net die helfte van wat in kinders se lewens aangaan.  Moeders neem alles in, sif dit, verwerk dit, hanteer dit, en besluit dan eers wie moet wat weet.  As dit ‘n vreeslike ding is, sal moeders eers baie stil raak sodat pa’s moet weet iets is fout.  As pa’s dit agterkom (vat partymaal bietjie lank) is moeders eers emosioneel en in trane en weier om haar hart uit te praat. 

Wanneer pa dink arme moeder gaan ineenstort, maak sy eweskielik haar hart en mond oop.  Nou is pa so geskok, dat hy onvas terugval op sy leunstoel en eers bietjie tv kyk.  Partykeer dieselfde aand, soms eers drie dae daarna is hy eers weer in staat om te dink en waag dit nader aan ma.   Nou wil hy sy praat praat.  Hy het die ding goed oordink.  Hy sien moeder is nog baie stil, maar sy gooi darem weer sy asbak uit wat nou al drie dae se stompies in het.  Dis ‘n goeie teken.  Hy is lus en maak die kind vrek, verban hom uit die huis of laat hom aanneem. 

Ongelukkig is die blikskottel reeds te groot vir sy skoene, en die tienerpuisies kom uit, en die voete stink van dae lank dieselfde kouse, so aanneem is uit.  Hy moet dalk ontvoering oorweeg.  Nou ja, dink hy, dis nou eers die tyd om ‘pose’ te hou. Moeder is skerp, hy sal maar op ‘n vreeslike volwasse manier met moeder gaan praat – ‘n manier wat sê dat hy die kind  verstaan, maar dis nou tyd om by te kom. 
Dis net ietwat ongemaklik, hy kan nie te kras wil wees nie, want hyself het nog ‘n paar kindermaniere
waarvan hy net nie ontslae kan raak nie.
Moeder’s weet al’s van almal (sy moet mos agter almal skoonmaak, maar dis dan ook die ideale geleentheid om in almal se goed te krap).   Moeders is baie slim.  Wanneer hulle klaar gekrap het, raak hulle dikbek oor hulle almal se vuilwerk moet doen (nie terwyl nie).
Nou trek pa los om sy beskeie opinie te gee, onwetend van die stophorlosie in moeder se kop. 

Hy maak dit ook net-net, en voor hy asem kan skep vir die derde sin, sug moeder, kyk hom aan met moedelose oë en sê:    “Ja, dit is seker so.  Ek weet nie meer nie … “  Dan vlieg sy op, voordat hy te veel selfvertroue kry en begin met haar eindelose take sodat hy kan sien die saak word nie verder bespreek nie, die huis moet skoon.  Ek meen, moeder het mos reeds die sakie met al haar ‘skills’ en maniere hanteer.  Dis dan wanneer pa’s hulself weer voor die tv gaan neerplak, moeder lyk ok. 

Al mense wat somtyds weet wat kinders aanvang, is moeders se eie ma’s en pa’s.  Pa’s se ma’s en pa’s mag nie hierdie dinge weet nie, want hulle skinder te veel.   Jy sien, moeders moet hierdie dinge vir hul ma’s en pa’s vertel, sodat iemand darem kan sien deur watter lyding moeders gaan, en hulle kan jammer kry.  Terwyl hulle so oor en weer praat en kla, rook hulle vreeslik, sit baie regop en wens so by hulself dat daar ‘n bier in die yskas was. Wanneer almal klaar gepraat het, staan die moeder en haar ma op en gaan drink ‘n grandpa in die kombuis waar niemand hulle kan sien nie.  Hulle koppe is dan baie dof van al die gepratery, en die grandpa help daarvoor. 

Moeders is baie spesiaal.  Kinders het nie ‘n idee van wat moeders alles moet doen nie, en is eers bly oor al die goed wanneer hulle self kinders kry en ook so baie moet jok.  


Mara, tong in die kies

No comments:

Post a Comment